Boksers pak binnekort eerste kampioenskap aan
Dié boksers beoog om te beïndruk by hul eerste beginner kampioenskappe.
Vier beginner boksers beoog om binnekort hul staal te wys tydens hul eerste kampioenskap. Al vier die boksers, wat deel van die Bert Collins Boks Klub is, het onlangs eers by die klub aangesluit maar hoop om nog baie in dié sport te bereik.
Die kampioenskap se eerste ronde sal hierdie naweek in Johannesburg plaasvind met ronde twee wat op 22 en 23 Maart in Pretoria volg.
Die 14-jarige Jaco de Bruyn het in Januarie vanjaar vir die eerste keer begin boks toe hy die die Bert Collins Klub aangesluit het.
“Ek is fiks, my fokus is op die regte plek en ek weet dat God aan my kant is met elke geveg wat ek aanpak,” sê Jaco.
Kort daarna het Eugene Scholtz (16) ook by die klub aangesluit en meen ook dat hy gereed vir sy eerste amptelike kampioenskap.
“Ek is van plan om daardie dag my hart uit te boks in die kruit,” sê Eugene en voeg by dat hy nog baie met sy boks talente wil bereik.
Saam met hulle gaan die 14-jarige Jean-Louie van Biljon ook aan sy eerste kampioenskap deelneem.
Jean-Louie boks al vir die laaste nege maande en vertel dat hy maande lank al pligsgetrou oefen om fiks te word en sy ingesteldheid vir sy gevegte is reg. Jacobus Jonker (16) is ook deel van dié groep bokseers en hy boks al vir 15 maande lank.
“Ek het hard gewerk en wil my tegniek gebruik om reguit houe in my geveg te boks,” vertel hy.
Hulle afrigter, Minnet Kritzinger sê alhoewel hulle elkeen nog redelik nuut is in die sport, het hulle baie passie daarvoor.
“Hulle sit elke aand hul hart en siel in die oefeninge en daarom glo ek dat hulle gereed is vir die kampioenskappe.
“As afrigter hoop ek my boksers sal hulle passie vir die sport in die kruit uitleef en dat elkeen dit werklik sal geniet en aanhou tot die einde toe,” het Kritzinger gesê.
ALSO CHECK: Bert Collins Boks Klub bied suksesvolle toernooi aan
ALSO CHECK: Hospice East Rand rebrands to East Rand Palliative Care



