Local newsNews

Internasionale Teaterdag vier teater en verhoogkuns

"Internasionale Teaterdag dwing ons om ons drafstap te stop en net vir ‘n oomblik stil te staan by kuns, kultuur en musiek."

Vandag, 28 Maart word Internasionale Teaterdag gevier. Die dag is toegewy aan die wêreld van musiek teater, verhoogkuns en kultuur.

In Suid-Afrika het Afrikaanse musiek teater en toneelspel ‘n ryk geskiedenis, met produksies wat diep spore getrap het en ‘n invloed gehad het op geslagte kunstenaars en gehore.

Hierdie dag vier die rol van verhoogkuns in die ontwikkeling van Afrikaans as ‘n taal van uitdrukking, vermaak en kultuur.

Dit is ‘n geleentheid om Afrikaanse teatergroepe, akteurs, regisseurs en dramaturge te erken en hul bydrae tot ons taal en kunste te waardeer.

Een van Springs se eie dramaturge en ook die gesig van Lefra Produksies, Frans Swart, sê dit is wonderlik dat daar wêreldwyd ‘n dag aan teater afgestaan word.

“Dit wys net watter waarde die wêreld en verskillende nasies aan teater heg. So ‘n dag is beslis baie werd om mense bewus te maak, veral in Suid-Afrika, dat daar nog teaters is wat wonderlike werk doen.”


Springs se eie dramaturg, Frans Swart in die ateljee.

Frans, wat nog altyd ‘n teater liefhebber is, meen dat hy nie teater gekies het nie, maar dat teater hom gekies het. Hy beskryf ook die teaterwêreld as towerkuns.

“Wanneer jy agter die gordyne staan, hoor jy sommer die opwinding van die gehoor. Niemand is gedwing om daar te wees nie, almal wil daar wees om ‘n aand van teater te geniet en sodra die gordyne oopgaan, dan maak ons towerkuns,” het hy trots ver.

Frans meen dat elke teaterstuk waaraan hy gewerk het, vir hom soos sy eie kinders is en dus is dit moeilik om een produksie uit te sonder.

“Daar is wel baie rolle en produksies wat ek nog sal wil aanpak. Ek sal graag weer in Siener in die Suburbs wil speel en ek hoop om nog een van die grootste en suksesvolste klugte te skryf en op te voer.”

Volgens Frans sal lewendige teater nooit met alternatiewe media produksies vervang word nie.

“Teater se grootste bedreiging is mense wat vasgekluister in hul huise sit en Netflix of Showmax kyk. Dit is jammer, want as teater nie ondersteun word nie, gaan daar nie meer akteurs wees wat in TV-reekse en rolprente speel nie,” het Frans gesê.


LEES OOK: Geliefde Yorkie word steeds vermis, beloning nou R20 000


“Springs het altyd ‘n baie aktiewe teater gemeenskap gehad maar ongelukkig is daardie kultuur verwoes. Ek is wel baie opgewonde oor die nuwe teater, Lè-Encore, by die Laerskool Selectionpark. Ek glo dat daardie teater ook sy regmatige plek gaan inneem in die teaterwese in Springs,” sê Frans.

Nóg ‘n groot teater liefhebber is die oud-skoolhoof van die Laerskool Selectionpark en deesdae die bestuurder van Lè-Encore, André du Plessis. Volgens André bied teater ‘n geleentheid om te ontspan en verskillende kunsvorme te geniet.

“Ek dink Internasionale Teaterdag dwing ons om ons drafstap te stop en net vir ‘n oomblik stil te staan by kuns, kultuur en musiek. ‘n Teater produksie was die samelewing skoon van die daaglikse oorlewingstryd; daarom kies ons versigtig wat ons in ons teater toelaat.”

André moedig die gemeenskap aan om Lè-Encore se sosiale media dop te hou vir opkomende produksies en kunstenaars, en nooi elkeen uit om weer teater produksies te geniet.

“Ek gaan my bes doen om teater te laat herleef, veral in ons dorp. Ons doel is om te bou, geleenthede te skep vir goeie kunstenaars en om ons gemeenskap te dien. Ek sien ‘n blink toekoms vir Lè-Encore.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button