Boksers wys staal by Gauteng Beginner Kampioenskappe
Twee van Bert Collins se boksers het vanjaar hul afdelings by die Gauteng Beginner Kampioenskappe gewen.
Springs is vanjaar goed verteenwoordig by die onlangse Gauteng Beginner Kampioenskappe. Die kampioenskap se eerste ronde het vanaf 14 tot 6 Maart in Johannesburg plaasgevind en ronde twee het op 22 en 23 Maart in Pretoria plaasgevind.
Die Bert Collins Bokers wat deelgeneem het was Jaco de Bruyn, Eugene Scholtz, Jean-Louie van Biljon en Jacobus Jonker.
Die 14-jarige Jaco de Bruyn het geen opponent gehad om teen mee te ding nie en was dus die wenner maar met geen toekenning of medalje nie.
Eugene Scholtz (17) het in sy eerste geveg teen ‘n bokser van Ekurhuleni geveg en met ‘n 3-2 punte beslissing verloor. In sy tweede geveg het hy teen ‘n ervare bokser van Johannesburg te staande gekom en ook naelskraaps verloor. Eugene was die bronsmedalje wenner.
Die 16-jarige Jean-Louie van Biljon het in sy eerste geveg teen JJP Grobler van Ekurhuleni te staan gekom en met ‘n RSCI gewen.
LEES OOK: San Michele Home celebrates 80 years of compassion
In sy tweede geveg het hy teen ‘n bokser van Wes-Gauteng geveg en sy teenstander met ‘n 5-0 punte beslissing gewen. Jean-Louie is die 66kg gewigsafdeling wenner van dié kampioenskap.
Jacobus Jonker (17) het in sy eerste geveg teen ‘n bokser van Tswane Metro te staan gekom. Jacobus het die eerste en derde ronde oorheers en hy het met 5-0 gewen.
Met die tweede geveg het sy opponent onttrek wat hom die punte vir die geveg besorg het en hy is as die beginnerskampioen in die 71kg jeug afdeling gekroon.
Jeanette Dyzel, die Ekurhleni spanbestuurder is baie tevrede met boksers se volharding en uithouvermoë in die kryt. Hulle afrigter, Minnet Kritzinger sê dat sy baie beïndruk met die boksers is en trots is om hulle afrigter te wees.
“Ek kon regtig nie vir ‘n beter groep manne gevra het nie. Hulle het almal dissipline getoon, hard gewerk en op die ou einde die vrugte daarvan gepluk,” het sy met trots gesê.
LEES OOK: Drug mules busted for drugs valued over R1.2-million at OR Tambo



