Local newsNews

Agteruitgang van Springs se infrastruktuur veroorsaak ontevredenheid by inwoners

Inwoners eis antwoorde oor die agteruitgang van die dorp wat eens 'n trots was.

Die inwoners van Springs bevind hulle in ’n voortdurende stryd teen vuil, vervalle omstandighede wat hul lewens daagliks beïnvloed. Ondanks aanhoudende klagtes, blyk dit asof die Stad van Ekurhuleni min of geen aandag daaraan gee nie.

Die eens trotse dorp se agteruitgang is lankal geen geheim meer nie en vir inwoners soos die 77-jarige Rassie van der Merwe van Petersfield, is dit ‘n daaglikse realiteit wat nie meer geïgnoreer kan word nie.

Volgens Rassie weerspieël die huidige stand van verwaarlosing ‘n ernstige gebrek aan instandhouding.

“Jare gelede was Springs ‘n pragtige dorp, ‘n regte trots. Maar vandag skaam ek my mors dood,” sê ‘n onstelde Rassie en voeg by dat Springs by die dag agteruitgaan.

Die inwoners van die dorp kla al hoe meer oor die stand daarvan en bevraagteken of die munisipaliteit enigsins ‘n poging aanwend om die verval te stuit.

“Ons paaie is vol slaggate, om nie eers te praat van die riool water wat ons die paaie vol lê nie. Daar is ook min verkeersligte in Springs wat werk, wat veroorsaak dat die verkeersvloei van ons dorp ook nie is wat dit moet wees nie.

“Op vele plekke is ‘n verkeerslig, wat buite werking is, sommer in ‘n stopstraat in verander. Dit veroorsaak verkeer opeenhopings.”

Hy meen ook parke se gras word nie meer gesny nie en dat die toegegroeide stoptekens ‘n veiligheidsrisiko vir motoriste inhou.

“Ons dorp word nie in stand gehou nie. Ons moet maandliks betaal, maar kry nie diens daaruit nie. Waarvoor betaal ons dan grondbelansting?” vra hy.

“Kyk na al die mense wat op straat staan en bedel, hoekom stel hulle nie mense aan wat wil werk en geld verdien nie?

“Hulle kan byvoorbeeld die paaie skoonmaak, sypaadjies in stant te hou en rommel optel,” het hy gesê en voeg by dat die mense wat nie gewillig is om te werk nie, vervang moet word.


ALSO CHECK: Beloved Dr WK Du Plessis School deputy principal dies


Nóg ‘n omgekrapte inwoner is die 64-jarige Kobus Swart. Volgens hom is die straatligte oorkant sy huis al vir twee jaar lank buite werking.

“Al wat mens kry is ‘n verwysingsnommer. Niemand doen eers die moeite om net uit te kom en dit te herstel nie. Dit is ook juis wanneer ons strate so donker is, dat misdaad toeneem.”

Kobus, wat al meer as ses dekades in Springs woon, meen dat Springs by die dag agteruitgaan en hy oorweeg om na ‘n ander dorp te trek indien die munisipaliteit nie spoedig ingryp nie.

Die ou Martiens Kotze Park in Ermeloweg met die Duitse windpomp is nóg ‘n teer punt vir Kobus. Volgens hom was dit jare terug ‘n gewilde park waar selfs troufoto’s geneem was maar vandag kan jy nie jou voete daar sit nie omdat dit verlate en onveilig is.

Die Advertiser het die Stad van Ekurhuleni gekontak om kommentaar oor die agteruitgang van die dorp. Teen druktyd was daar geen geen terugvoering nie.



ALSO CHECK: Meat World celebrates 30 years with music, markets and braai fun in Springs

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button