Inwoners van Presidentia Aftreeoord maak self hul omgewing skoon
Die inwoners het self ingespring om die oord weer te laat skitter.
Die bejaarde inwoners van Presidentia Aftreeoord het onlangs self ingespring om onder andere die lang gras in die oord aan te pak, om sodoende die prag van die oord te laat herleef.
Met die ondersteuning van Serenity Senior Services het hul pogings ook uitgebrei na die area rondom die oord, waar die lang gras asook rommel en vuilgoed verwyder is om die die algehele netheid van die omgewing op te skerp.
Die inwoners voer ‘n daaglikse stryd om hul woonplekke in stand te hou en hul veiligheid is ook ‘n kwelpunt.
“Tog is ons is geseënd met Alltime Plumbing van Springs wat elke inwoner se loodgieterswerk gratis gedoen het. En glo my, dit was skokkend,” het ‘n vrywilliger, wat die oord se inwoners ondersteun en anoniem wil bly gesê.
“Verstopte dreine en toilette, krane wat lek en stukkende baddens is aan die orde van die dag. Daar is ook dankbaarheid teenoor SAPS wat sekuriteit geskenk het na maande se inbrake en aanrandings op hierdie weerlose mense,” het die vrou gesê.

“Ons het werklik hulp nodig om plafonne en gebreekte ruite te herstel. Die dakke lek, maar die munisipaliteit maak dit nie reg nie. Plafonne kan ook nie vervang word terwyl die dakke lek nie,” sê sy.
Falzad Security het ook sekuriteit geborg vir Hek 4.
Die inwoners is desperaat vir hulp, in die vorm van vrywilligers of skenkings. Hulle benodig toerusting om die oord skoon te maak en so te hou, sowel as fisiese hulp.
“Inwoners van Springs en verbygangers word aangemoedig om ‘n draai te maak by Presidentia om self die transformasie te sien, en dit te oorweeg om in te tree en ‘n hand by te sit,” het die vrywilliger gesê.
Een van die inwoners, George Koekemoer, vervang self die vensterrame se klei, wat gratis deur Serenity Senior Services geskenk is.
“Dit is werklik hartseer om hierdie mense so te sien werk, maar ook ‘n mooi gebaar van hul almal,” het die vrywilliger mee afgesluit.
LEES OOK: Collaboration brings mobile clinic services to Ekurhuleni East TVET College
LEES OOK: Improved waste services for Ekurhuleni: New trucks deployed to Springs



