Springs Ryperd se galop hou Brakpan op hul tone
Alhoewel Springs verloor het, het die manne vier drieë gedruk en bonuspunte huis toe geneem.
Springs se Ryperd het Saterdag byna ‘n opskudding veroorsaak in hul wedstryd teen Brakpan in die Valke Peregrine Liga kragmeting wat op die Bosman Stadion plaasgevind het.
Alhoewel Brakpan met 35 – 29 gewen het, kon die wedstryd teen die einde in enige rigting geswaai het. Springs het vier drieë gedruk en met minder as sewe punte verloor om twee bonuspunte te ontvang.
Die spelers wat vir Springs gaan druk het, is Mandla Plumstead, Gerhard Jordaan, Quintin Olivier en Rudolph Potgieter.
“Ons het twee vinnige drieë kort na mekaar in die eerste helfte gedruk en dinge moeilik gemaak vir Brakpan,” het ‘n woordvoerder van die Springs Rugbyklub gesê.
“Ons het net uit tyd uit gehardloop.”
Die tweede span van Spring het Brakpan ook harde bene laat kou en met 28-24 verloor. Die o-21’s was nie opgewasse teen Brakpan nie en het met 87-0 die knie gebuig.
“Dit was ‘n goeie dag vir rugby en die bestuur van die Springs Rugbyklub wil Brakpan Rugbyklub bedank vir ‘n groot dag van rugby. Die moeite wat die klub doen word raakgesien deur die spelers asook die toeskouers,” het die woordvoerder gesê.







