Local newsNews

Springs tiener wen Miss Eco Teen SA en nou wink Egipte

Springs se Megan Roodt is onlangs gekroon as Miss Eco Teen SA en binnekort wag die internasionale verhoog in Egipte.

Megan Roodt (16) is onlangs gekroon as die wenner van Miss Eco Teen en gaan in Oktober Suid-Afrika op die internasionale verhoog in Egipte verteenwoordig.

Sy woon saam met haar pleegouers, Marycke en Francois Smuts in Selection Park. Die Springs Advertiser het ’n onderhoud met die skoonheid, wat ’n leerder van Hoërskool Hugenote is, gevoer:

• Wat behels die Miss Eco Teen kompetisie en was dit die eerste kompetisie waaraan jy deelgeneem het?
Ek het al aan verskeie kompetisies deelgeneem en heelwat titels verower. Ek het begin modelwerk doen saam met my broers, Willie Smuts en Jeandré Doubell, en my sussie, Melanie Roodt. My modelloopbaan het op die ouderdom van nege begin.

Miss Eco Teen SA is ’n titel wat vir my baie belangrik is, aangesien die organiseerders van hierdie spesifieke titel hul wenners baie goed behandel en altyd hul beloftes nakom.

Albei my broers het reeds Suid-Afrika internasionaal in Ecuador verteenwoordig deur World South Africa Pageants, en nou is dit my geleentheid om my land se naam hoog te hou in Egipte.

• Wat is die fokuspunt van die kompetisie?
Die kompetisie gaan oor die belangrikheid van ons planeet, ons ekosisteme en die algemene gesondheid van ons gemeenskappe. Toerisme is ook ’n belangrike aspek van die kompetisie.

• Hoe het jy gevoel toe jou naam as wenner aangekondig is?
Die aankondiging was ’n fantastiese verrassing. Ek was regtig dankbaar dat ek gekies is om hierdie titel te kan dra.

• Wat het jou laat uitstaan tussen al die ander finaliste?
Die ander finaliste was absoluut beeldskoon en ek het regtig nie verwag dat ek die wenner sou wees nie. Aan die einde is dit natuurlik nie ons besluit nie, maar die beoordelaars s’n.

Wat ek dink my laat uitstaan het tussen die ander finaliste, is dalk die passie wat ek vir modelwerk het. Ek is fanaties as dit kom by daaglikse loopplankoefening en loop letterlik die sole van my modelskoene deur; iets waaroor my ma, Marycke Smuts, baie kla, maar darem verstaan.

• Hoe voel jy oor die geleentheid om Suid-Afrika in Egipte te verteenwoordig?
Om my land in Egipte te kan verteenwoordig, is natuurlik ’n droom. Ek en my ma wil graag hierdie geleentheid gebruik om saam te gaan. Dit sal ’n wonderlike ondervinding wees en ons kan nie wag om die piramides en al die ander wonders in Egipte te gaan verken nie.


Megan Roodt is baie tuis op die loopplank en het verskeie titels agter haar naam. Foto: Allan Riedel

• Hoe beplan jy om vir die internasionale kompetisie voor te berei?
Ek beplan om saam met my modelafrigter, Valerie Begbie van Vogue Catwalk Models in Pretoria, hard te werk aan my loop en die verskillende stelle klere wat ek moet voorberei.

Ek moet ’n nasionale kostuum saamneem en ook ’n Eco-kostuum wat uit herwinbare materiale gemaak word. Ek sien nogal uit daarna om hierdie kostuums aan die wêreld te vertoon. Om voor te berei moet ek ook aan my onderhoudstegnieke werk.

• Wie of wat is jou grootste inspirasie in die lewe?
My ouma, Icy Victor, my ma Marycke se ma. Die rede waarom sy vir my so ’n groot inspirasie is, is omdat sy nooit opgee nie.
Sy is ’n gelowige, pragtige mens.

Op 78-jarige ouderdom het sy die stryd teen kanker gewen, en ’n jaar terug het sy drie hartaanvalle oorleef asook ’n operasie. Sy is nou 87 jaar jonk.

Sy is die persoon in my lewe wat vir my wys dat jy enigiets kan oorkom, solank jy jou medemens liefhet, jou familie eerste stel en jou oë op die Vader rig en Sy hand vashou.

• Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek speel vir die o16A-hokkiespan van my skool, Hoërskool Hugenote. Hokkie is een van my passies.

• Hoe het jou reis as ’n pleegkind jou gevorm en gemotiveer?
Daar was ’n tyd waar dit my ontstel het as ander weet dat ek in pleegsorg is. Dit is soms nog moeilik, maar ek wil juis nou daaroor begin gesels omdat ek voel my storie kan ’n verskil maak, al is dit slegs in een persoon se lewe.

My reis as ’n pleegkind het my geleer dat jy soms nie verstaan hoekom dinge met jou gebeur nie, totdat jy op ’n plek kom waar jy moet wees.

My ma, Marycke, en pa, Francois, het ons in 2016 ontmoet en daarna aansoek gedoen om ons pleegouers te word. Ons is in mekaar se lewens geplaas deur iets groter as onsself, en ek voel dit het my geloof sterker gemaak.

Deur ’n stabiele gesin agter my te hê, het dit my gehelp fokus op my akademie, sport, en kultuur. Dit het my laat harder werk om te wys dat ek kan. Ek moet ook sê dat dit nogal help om broers en ’n sussie te hê wat ook presteer, want dit motiveer my net nog meer.



LEES OOK: Springs Mine and Military Museum lands iconic SAAF Impala MK1

LEES OOK: Springs Civic Centre hosts premiere of Majestic Holy Trinity Oratorio

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button