Springs inwoner neem leisels oor as laerskool hoof
Die inwoner van Springs neem die teuels oor by 'n Brakpan laerskool as hul nuwe hoof.
William Daniels (41), ‘n inwoner van Springs Geduld uitbreiding is aan die einde van 2025 aangestel as hoof van Laerskool Brakpan-Oos en betree die rol in die jaar waarin die skool sy 90ste bestaansjaar vier.
William het in 2008 die onderwys betree, waar hy wiskunde in die intermediêre fase aangebied het.
Sedert 2022 het hy vir die distrik se onderwysdepartement gewerk, en in 2024 het hy vir ses maande as waarnemende hoof by Laerskool Môrester in Springs opgetree.
Die aanvaarding van die pos by Brakpan-Oos spruit uit sy begeerte om ’n persoonlike verskil te maak.
Gedurende sy tydperk by die distrik het hy met 139 skole gewerk, terwyl hy nou as hoof ’n dieper verskil met een skool onder sy vlerk kan maak.
ALSO READ: Stationery drive launched by Springs Boys High and Rotary for 2026
“Ek wil by die skool werk om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder,” het hy gesê.
Hoewel William meestal opgewonde is, is daar steeds ’n mate van angs.
“Dit is ’n groot uitdaging, maar die opgewondenheid is groter,” verduidelik hy.
Vir hom is die doel vir die eerste paar maande om terug te staan en te kyk hoe dinge by die skool funksioneer.
Hy wil nie sommer inspring en sy gesag afdwing nie, maar eerder eers verstaan wat die skool werklik nodig het voordat hy besluite neem.
“My hoop is om die kultuur en taal te behou en te bevorder, maar ook om seker te maak dat elke kind veilig voel en ervaar dat die onderwysers vir hulle baklei en in hul hoek staan,” sê hy.
Benewens sy “terugstaan en waarneem” benadering beoog William om die skool verder te ontwikkel deur die gemeenskap en borge meer betrokke te kry.
“Ek wil die skool op ’n punt bring waar ons kan terugploeg in die gemeenskap,” sê hy.
’n Struikelblok wat William reeds in die gesig staar, is ’n inbraak by die skool wat ’n week ná sluiting plaasgevind het, waartydens baie van die skool se toerusting en selfs klere uit die klerebank gesteel is.
Dit is vir hom belangrik dat die skool ’n gesonde balans handhaaf tussen akademie, sport, kultuur en sosiale geleenthede.
“Hierdie jaar mik ons nie net na akademiese mylpale nie; ons mik na ’n kultuur van veerkragtigheid, innovasie en ’n sin van ‘ek is belangrik’ by ons skool. My doelwit vir die eerste jaar is om te luister en te leer,” sê hy.
“Ons is ’n span, en ons gaan hierdie jaar buitengewone dinge vir ons kinders doen.
“Ek is trots om die skoolhoof te wees,” sluit hy af.
ALSO READ: Springs parkrun welcomes the new year with run



