Local newsNews

Springs inwoner maak geskiedenis by NG Kerk Brakpan-Oos

Met haar bevestiging as eerste vrouedominee betree ds Carina Burger ’n nuwe hoofstuk by die 80-jarige NG Kerk Brakpan-Oos.

Ds Carina Burger, ’n inwoner van Petersfield-uitbreiding in Springs, het onlangs die pos as permanente leraar van die NG Kerk Brakpan-Oos aanvaar.

Sy is op 17 Januarie bevestig onder leiding van die bestuurder van die Hoëveld Sinode, ds Hannes Windell, en is die eerste vrouedominee van die gemeente. Haar aanstelling kom nadat die kerk verlede jaar sy 80ste bestaansjaar gevier het.

Dominees Nico Grobbelaar van NG Brakpan Moedergemeente, Hennie Pienaar van Dalpark Kaleo, Henri Horn (emerituspredikant) en Jannie du Plessis (emerituspredikant) was deel van die groep wat die handoplegging behartig het.

“Die vooruituitsig vir my tyd saam met die gemeente lyk baie lekker. Dit is ’n uitdaging, maar dit voel beslis of ek hier gevestig kan raak,” het sy gesê.


Ds Carina Burger is die nuwe permanente leraar by die NG Kerk Brakpan-Oos. FOTO: Verskaf

Burger het oorspronklik omgewingswetenskappe studeer, waarin sy ’n meestersgraad het, voordat sy teologie aan die Hugenote Kollege in Wellington studeer het.

“Dit is amper asof ek eers met die skepping gewerk het en nou met die mense,” het sy grappenderwys gesê.

Sy het aanvanklik as proponent by verskeie kerke gepreek, meestal in Springs wanneer voltydse dominees afwesig was, maar is deur Bosch raakgesien.

“Dit was letterlik ’n geval van ‘God works in mysterious ways’,” het sy gesê.

Haar doelwitte vir die jaar is om gevestig te raak, die mense van die gemeente te leer ken en aan die kultuur gewoond te raak.


LEES OOK: Springs inwoner neem leisels oor by Hoërskool Die Anker


“Ek wil saam met die mense groei,” het sy gesê.

Sy wil nie veel verander nie, aangesien mense gewoond is aan die huidige struktuur, en wil eerder voortbou op wat reeds daar is.

Persoonlik is sy besig met ’n beradingskursus en wil sy fokus op haar geestelike groei om te probeer ontdek wat die Here se visie vir haar en die gemeente is.

“Ons moet gehoorsaam wees aan Jesus se stem; vir die res sal Hy sorg. Die kerk het steeds ’n plek en ’n doel in die samelewing, en in ons kerk is almal welkom,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button