Local news

Springs gemeenskap in rou ná breinvliesontsteking die lewe van gewilde jong kind eis

Boodskappe van medelye en steun het ingestroom ná die geliefde seun se afsterwe.

Die gemeenskap van Springs, en veral die skool waar Frans (Fransie) van den Bergh ’n gewilde leerder was, is in rou gedompel nadat hy Woensdag (4 November) aan breinvliesontsteking oorlede is.

Die jong seun was ’n graad sewe leerder aan die Laerskool Christiaan Beyers.

Sedert dit bekend geword het dat hy siek is, het die skool en gemeenskap bankvas agter hom gestaan. Talle oproepe om gebed en genesing is deurentyd op sosiale media gedoen.

Die volgende boodskap is vanoggend (Vrydag) op die skool se Facebook-blad geplaas:

IN LIEFDEVOLLE HERINNERING AAN FRANS
Met groot hartseer en innige meegevoel neem ons as die Chrissies-familie afskeid van ons geliefde leerder, Frans.

Dit is moeilik om die verlies van so ’n jong lewe te verwerk. ’n Lewe vol drome, hoop en moontlikhede wat veels te vroeg van ons weggeneem is. Daar is soms geen woorde wat die hartseer kan beskryf of die leemte kan vul nie.

Frans was deel van ons skoolfamilie. Ons sal hom onthou as ’n jong seun met ’n besondere liefde vir rugby, en met herinneringe wat vir altyd deel van ons Chrissies-gemeenskap sal bly.


Fransie van den Bergh is Woensdag oorlede. Sy skool het met die saamgestelde foto, hulde aan hom gebring. Foto: Laerskool Christiaan Beyers Facebook-blad

Rus sag, Frans. Jy sal in liefde onthou word.

Verskeie Facebook-boodskappe van ouers en ander belangstellendes is ook op die skool se Faceboek-blad geplaas:

  • “Rus sag, Seun! Ek kan nie glo jy sal nooit weer ’n rugbybal by my kom leen om te skop terwyl ons rugby oefen nie. Liewe Here, hou die pragtige familie styf vas!”
  • “My hart gaan so uit na Mamma en Pappa. Sterkte vir julle. Rus sag, Seun. Jou plek is leeg by ons, maar jy is veilig by die Here.”
  • “Dit is baie hartseer nuus. Sy ou vriendelike gesiggie gaan beslis op die rugbyveld gemis word. My kleinseun het ’n groot vriend verloor. Ons innigste meegevoel aan die ouers, familie en vriende.”

Fransie was ’n gewilde leerder en kranige rugbyspeler vir sy skool met talle toekennings agter sy naam. ’n Gebedsaamtrek vir Fransie is ook Dinsdagaand (3 November) by die Life Springs Hospitaal in Springs gehou.

’n Groot groep vriende, familielede en ander belangstellendes het dit bygewoon waar daar skriflesing en gebed plaasgevind het.

Intussen is ’n graad 2-leerder, Aidan Westraad (8), van die Laerskool Laurus op Oudtshoorn, ook Sondag vermoedelik weens breinvliesontsteking oorlede.

WAT IS BREINVLIESONTSTEKING
Breinvliesontsteking (meningitis) is die ontsteking van die lagies weefsel wat om die brein en ruggraat voorkom.

Daar word tussen twee soorte onderskei: virale en bakteriologiese breinvliesontsteking. Dit ontstaan weens verspreiding van ‘n infeksie. Bron: Wikipedia


‘n Groot groep mense het Dinsdagaand by die Life Springs Parkland Hospitaal, waar hy aanvanklik behandel is, saamgekom om vir Fransie van den Bergh te bid.

Die foto is vanoggend saam met ‘n roerende boodskap op Laerskool Christiaan Beyers se Faceboek-blad geplaas. Foto: Laerskool Christiaan Beyers Facebook-blad
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button