Springs VLU vrou wen staatmakertrofee by konferensie
Die wen van staatmakertrofee is 'n besondere prestasie aangesien dit slegs vir die tweede keer in die Springstak se meer as 40 jaar geskiedenis na Springs toe kom.
Sankie Jordaan van die Springs tak van die VLU, Carpe Diem, het by die onlangse konferensie (streekskompetisie van die VLU) die staatmakertrofee gewen, of soos dit grootliks bekend is, die vonkelvroutrofee.
Dit is ‘n besondere prestasie, want vir slegs die tweede keer in meer as 40 jaar se bestaan, is die trofee toegeken aan ‘n lid van die Carpe Diem tak.
Sankie, die vorige voorsitter van die tak, het die toekenning ontvang vir haar onwrikbare betrokkenheid en ses jaar se diens as takvoorsitter.
“Dit is ‘n baie groot eer, en ek het baie trots gevoel om die toekenning te ontvang uit Goudrifstreek se ses VLU takke se lede,” het sy gesê.
“Ek was altyd ‘n lid van die VLU, maar die afgelope agt jaar was ek baie betrokke by VLU Carpe Diem se bestuur. Ek was vir ses jaar takvoorsitter, en in 2024 en 2025 as visievoorsitter verkies.
“Toe bedank die voorsitter, en ek het as waarnemende voorsitter ingetree vroeg in 2025, nadat ons streekvoorsitter my gevra het om in te tree tot einde 2025. Ek het ingestem,” het Sankie gesê.
“Toe Bettie Beuidenhout, die tak se puntekoördineerder, in 2025 Nederland toe is, het ek ingestem om te help met haar werk, asook toe Louise Nothnagel, die sekretaresse, vir haar kinders in New Zealand gaan kuier het vir drie maande in 2025.
“Ek doen die afgelope sewe tot agt jaar Carpe Diem se jaarprogram, wat baie ure neem, en ek het tot laat in die aande met dit gesit omdat ek my eie eiendomsagentskap besit.
“Ek was ook altyd by al die streeksvergaderings, konferensies en kongresse gewees,” verduidelik sy. Dit is volgens Sankie haar bydrae wat toegedra het dat sy die toekenning ontvang het.
Om die gees van die toekenning voort te leef sê Sankie sy is altyd bereid om enige taklid of streekbestuur by te staan waar nodig.
“VLU bly vir my lekker, en ook in my alledaagse lewe, persoonlik of werk, help ek graag waar ek kan,” het sy gesê.
“Al Carpe Diem se lede was baie trots daarop dat ek die toekenning gekry het. Ek is al so te sê 40 jaar lid van ons tak, en dit is nou eers die tweede keer wat een van Carpe Diem se lede hom ontvang.”
Oor haarself en haar private lewe is Sankie ook trots. “Ek is eerstens ‘n familiemens. Ek is al langer as 50 jaar met my man, At Jordaan, getroud. Ons het vyf getroude kinders en 12 kleinkinders vir wie ek almal baie lief is.
“Ek is in Bulawayo, in die destydse Rhodesië gebore, en bly nou al vir 46 jaar in Springs. Ek het in 1981 by Springs varskproduktemark vir Ekurhuleni gewerk, en in 1990 in die eiendomsbedryf begin.
“In 1996 het ek my eie besigheid, Sankie Eiendomme, begin en werk nogsteeds,” sê sy.
Haar grootste invloed in haar lewe is Clemens Nel, saam wie sy gewerk het by Judge Eiendomme van 1990 tot 1996.
“Hy het my baie goeie leiding in die eiendomme gegee en dis daardeur dat ek my eie besigheid kon begin.”
Oomblikke in haar reis met die VLU Carpe Diem wat aan haar uitstaan is ‘n paar.
“Miskien toe die tak die vertroue in my gehad het om leiding te neem as voorsitter, en natuurlik toe ek op 26 Februarie die jaar as vonkelvrou of staatmaker van die jaar by Goudrif konferensie gekies is.”
ALSO CHECK: Local beauty queen secures top title at Face of Starlight competition
Haar boodskap aan jong vroue of meisies wat wil deel word van die VLU is: “Ons wil vreeslik graag hê dat jongmense en jonger vroue ook by die VLU kom aansluit.
“Ek het regtig baie goed by die VLU geleer deur die jare, en ons doel is om vir die vroue iets nuuts te leer deur mense te kry om vir ons demonstrasies of werksklasse te kom aanbied.
“Dit is sodat ons kan leer om verskillende artikels te maak, en ons probeer ook van ons konferensie- en kongresartikels te dek daarmee.
“Ons kry ook professionele mense om ons te kom verryk met praatjies oor nuwe wetgewing, verskillende gesinsonderwerpe, besoedeling ensovoorts.
“VLU het ‘n wye reeks waaraan ons aandag skenk, soos naaldwerk, hekel en breiwerk, fotografie, verskillende kunsvorms, blommerangskikking, gebak, gebottel, lekkers, skryfwerk en meer. Ons ontvang enige vrou, jonk of oud, by ons vergaderings,” sluit sy mee af.
Vir meer inligting, of om aan te sluit, kontak Sankie op 082 922 9712.
ALSO CHECK: Springs SAPS bids emotional farewell to eight retiring officers



