Local news

Stopteken by besige kruising weer verwyder

Hierdie kruising is lewensgevaarlik vir motoriste wat nie met die omgewing vertroud is nie.

Die kruising op die hoek van Townsendstraat en Nettletonlaan in Stubenvale was vir ‘n wyle weer eens sonder ‘n stopteken, maar dit is spoedig vervang nadat dit onder die aandag van die Stad van Ekurhuleni gebring is.

Dít, slegs vier maande na die tragedie wat homself op dié hoek afgespeel het waarin die negejarige Khloé Pottas haar lewe verloor het. (Ongeluk eis negejarige se lewe).

‘n Motorongeluk het verlede jaar in September laatnag hier plaasgevind toe twee voertuie teen mekaar gebots het.

Hierdie motorongeluk het nie net klein Khloé se lewe geëis nie, maar haar ma en twee sussies met ernstige beserings in die hospitaal gelaat.

Lesinda (38), Mario-reé (15) en Leyla (12) het vir etlike weke in die hospitaal aangesterk.

Ten tyde van die ongeluk was die stopstraat se verf nie sigbaar op die pad nie en die kruising het ook nie oor ‘n stopteken beskik nie.

Slegs dae nadat die motorongeluk plaasgevind het, is daar ‘n stopteken by die kruising aangebring.

Skaars ‘n paar maande na die ongeluk, het hierdie kruising weereens nie oor ‘n stopteken beskik nie.

Tydens ‘n besoek van die Springs Advertiser, verlede week, kon dit duidelik gesien word dat die stopteken met paal en al uit die grond verwyder is. Hetsy dit omgery is of deur vandale verwyder is, is nie duidelik nie.

‘n Hoop rooi grond is al wat agtergebly het nadat die stopteken verwyder was. Dit is intussen vervang.

Die Advertiser het die Stad van Ekurhuleni rakende hierdie veiligheidskwessie genader vir kommentaar.

Dit lui soos volg:

“Dit is jammer dat vandalisme voortduur, ten spyte van talle beroepe deur die Ekurhuleni metro dat dit gestaak moet word. Die feit dat ons selfs ‘n lewe verloor het, demonstreer hoe die diefstal en vandalisme van munisipale infrastruktuur die samelewing beïnvloed.

“Dit is wydverspreid en is van toepassing is op kabeldiefstal, verkeersligte, straatligte, mangat deksels en meer. Die genoemde stopteken kwessie is egter by die paaie-afdeling aangemeld en die saak sal aandag geniet.”

Die Springs Advertiser kan bevestig dat ‘n nuwe stopteken reeds aangebring is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button