Die jaar het vir Fernando Booysen (12) baie goed begin en hy spog met drie stoeioorwinnings en ‘n tweede plek.
Tydens die skoolvakansie het hy aan die Suid-Afrikaanse Grieks-Romeinse Presidente Kampioenskappe en die Suid-Afrikaanse Presidente Vrystyl Kampioenskappe deelgeneem — en albei gewen.
Die twee-dae lange kampioenskappe is in Pretoria gehou, waar alle provinsies en Namibië deelgeneem het.
Hierdie Laerskool PAM Brink-leerling het op die eerste dag van die kompetisie vier stoeiers in die 30kg
tot 33kg afdeling, vir ouderdome 12 tot 20 jaar, uitgeskakel.
Alhoewel hy op die eerste dag van die kompetisie bietjie senuweeagtig voorgekom het, het hy nogtans gewen.
Sy pa, Dirk Booysen, sê Fernando neem nie gereeld aan die Grieks-Romeinse-afdelings deel nie, maar het hom goed van sy taak gekwyt.
Dirk verduidelik dat hulle in hierdie afdeling stoei sonder om met hulle bene aan te val.
“Met ander woorde, hulle stoei met die bolyf,” sê hy.
Op die tweede dag het 12 stoeiers tussen die ouderdomme van 12 en 20 jaar in die 30kg tot 33kg-afdeling meegeding vir die eerste plek. Maar hier het Fernando ook gewen.
In die vrystyl-afdeling, wat op die tweede dag plaasgevind het, het Fernando baie gemakliker gestoei.
“In hierdie afdeling kan die stoeiers hul bene gebruik om te stoei,” sê Dirk.
Fernando voel baie goed oor sy twee oorwinnnings.
Hierdie jaar het op ‘n hoë noot afgeskop, want hy het alreeds aan vier afdelings in drie toernooie deelgeneem, waarvan hy drie gewen het en in die vierde afdeling ‘n tweede plek behaal het.
Hy oefen tans ter voorbereiding vir die Mpumalanga Stoei Kampioenskappe, wat Saterdag in Secunda plaasvind.



