Produksie sê dankie
Verlede Woensdagaand is daar behoorlik dankie gesê aan elke individu wat deel was van die Forsaken film.
Die glansgeleentheid is gehou by Carnival City se Mardi Grass teater.
Bekendes soos Gerhard Steyn, Johan Scholtz, Marisa Drumond en Hykie Berg is maar net ‘n paar van die akteurs wat te sien is in die film wat ‘n ware lewensverhaal weerspieël.
Die Olwage-gesin se lewensverhaal van hoe hulle met God geworstel het tydens krisis-tye, word perfek in hierdie film uitgebeeld.
Volgens Incense Produksie se uitvoerende vervaardiger Morné Lane, was die doel van die aand om elke individu wat deel was van die film, te bedank.
“Ons het klein en groter ‘Oscars’ laat maak en vir elkeen een gegee,” sê hy.
Daar is ‘n paar mense wat egter spesiale erkenning gekry het, soos Gerhard, Johan, Marisa en Hykie.
Johan en Marisa se toekennings was vir die mees emosionele oomblik in die fliek.
Die toekenning vir die sterkste oomblik op stel is aan Gerhard oorhandig, waar die snaakste oomblik op stel weer deur Hykie ontvang is.
Hykie het Morné en Willie agterna bedank vir hul bedagsaamheid en het genoem dat dit nie aldag is dat ‘n ieder en elk op so besondere wyse bedank word nie.
“Met Gerhard in die rol van Will Olwage en Johan as sy pa Pastoor Will Olwage, was daar baie passievolle en emosioneel-belaaide oomblikke,” sê Morné.
Morné sê elke karakter vertolking was fenominaal en die emosionele oomblikke het almal agter die kameras in trane gehad.
Die geleentheid verlede Woensdag is oopgestel aan die media, om ‘n publieke bewustheid te skep oor die film wat binnekort sal verskyn.



