Teatergangers kan uitsien na ‘n splinternuwe verhoogstuk, Oom Schalk Lourens se Mampoerstories, wat om 8nm op Vrydag (29 Mei) in die Mardi Grasteater by Carnival City sal afspeel.
Met die wonderlike talent van Paul Lückhoff, wat die rol van oom Schalk vertolk, sal die gehoor gou agterkom dié verhoogstuk is ‘n trefferproduksie.
Paul verstaan die kuns van storievertel en hy het ‘n transformasie ondergaan en oom Schalk Lourens geword.
Verskeie stories soos, onder andere, Willem Prinsloo se Perskemampoer, Die Jubabessie, Die Musiekmaker en Die Bekkersdal Marathon sal vertel word.
Die karakter is jare gelede deur Herman Charles Bosman geskep en is nou verwerk en vertaal deur Frans Swart, van Lefra Produksies, wat ook die regie hanteer.
Die produksie het deur die jare volksbesit geword en Patrick Mynhardt het vir jare as oom Schalk Lourens op die verhoog verskyn, maar oom Schalk het nog al die jare Engels gepraat.
Vir die eerste keer in die geskiedenis praat oom Schalk Lourens egter nou Afrikaans.
Frans sê hy het vir jare saam met Patrick gewerk en oom Schalk Lourens het hom nog altyd gefasineer.
Wat hom veral ook beïndruk van Bosman se storievertelling is dat baie van die stories tot vandag toe so aktueel is.
‘n Goeie storie bly altyd ‘n goeie storie en oom Schalk Lourens kan stories vertel.
Oom Schalk Lourens is ‘n bobaas storieverteller, wat die Groot Marico en sy mense baie lief het, maar hy is ook baie lief vir mampoer en vir meisies.
Hierdie briljante, poëtiese stories is vol satire, sentiment, realisme, romanse, ironie en geïnspireerde gekskeerdery en vir die eerste keer in Afrikaans op die verhoog.
Bespreek by Computicket, by 0861 915 8000 of www.computicket.com.



