Local newsNews

Het van Verlangekraal voorskoue in Springs: Datums, rolverdeling en kaartjies

Teaterliefhebbers kan uitsien na twee halfprys-voorskoue van Het van Verlangekraal op 27 en 28 Maart in die Ken Gampu-teater in Springs. Die produksie, onder regie van Frans Swart met ’n verhoogverwerking deur Leon van Nierop, bring dié geliefde verhaal met ’n sterk plaaslike rolverdeling tot lewe.

Liefhebbers van teater is in vir ‘n groot bederf wanneer twee halfprysvoorskoue van Het van Verlangekraal op 27 en 28 Maart om 19:00 in die Ken Gampu-teater in Springs (voorheen die Springs Stadsteater) plaasvind.

Die regie word waargeneem deur Springs se eie teaterghoeroe, Frans Swart, terwyl Leon van Nierop self die teks vir die verhoog verwerk het. Etienne du Plessis, wat in 2003 aan die Hoërskool Brandwag gematikuleer het, speel die rol van die gewraakte skoolhoof, Meneer Jan Erlank.

Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.

Het van Verlangekraal is oorspronklik in 1960 gepubliseer en is deur Johann Bekker geskryf en handel oor ‘n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser, Doep vir haar medemens begin omgee.

Van Nierop se roman, Het van Verlangekraal, het ook so pas by Tafelberg Uitgewers verskyn. Van Nierop sê dat hy baie opgewonde is dat Het van Verlangekraal verhoog toe gaan.


Etienne du Plessis Etienne du Plessis speel die rol van die gewraakte skoolhoof, Meneer Jan Erlank. Foto: Rina G. Coetzee

“Toe Frans Swart van Lefra Produksies my vra of ons Het verhoog toe kan neem, het ek vinnig ingestem, want ek het dadelik besef dat die onmiddellikheid en kompleksiteit van die verhoog, ’n totaal nuwe dimensie aan Het gaan verleen,” het Van Nierop gesê.

“’n Verhoogteks het natuurlik heelwat ander uitdagings as tekste vir televisie, radio of romans. Ek moes die karakters verminder en net op die kernkarakters konsentreer, en moes ook moeilike buitemuurse tonele visualiseer om op een verhoog te kon afspeel,” het hy bygevoeg.

Frans Swart, regisseur van Het van Verlangekraal sê dat toe hy Leon van Nierop se roman gelees het, hy dadelik besef het dat Het verhoog toe moet gaan.

“Leon het ’n ongelooflike lekker skryfstyl, want jy wil nooit sy boeke neersit nie. Natuurlik leef hy al jare met die storie van Het en het ’n puik verhoogteks geskryf wat nuwe interessante dimensies na die karakters en toneel bring.”

Nikita Meyer van Springs, Gauteng vertolk die rol van Het Heiberg en studeer tans BCom in Ondernemingsbestuur aan Akademia. Henco J, as Doep du Plessis, werk sedert 2002 professioneel in die vermaaklikheidsbedryf as akteur, regisseur en storieverteller.


LEES OOK: Springs SPCA to receive R50 000 boost from Jacaranda FM’s Good Morning Angels


Nico Loubser is Het se pa, Floors Heiberg, en het ná ’n loopbaan van tien jaar in onderwys ’n gevestigde akteur geword met verskynings in verskeie SAUK- en kykNET-reekse, waaronder Meeulanders, Arende, Diepe Waters en die Silwerskerm-kortfilm Liewe Dudu.

Ana van Achterbergh speel Mart du Plessis, en is ’n kunstenaar, opvoeder en aktrise met opleiding in Drama en Film aan TUT. Ulrich Slabbert vertolk Doorsie Duvenhage, en is ’n opkomende akteur en tweemalige wenner van die FAK Allegretto Toneelfees.

Zanje Bodenstein is ’n talentvolle jong aktrise en model en speel Mathila van Eck. Zanje het ervaring in teater, film en televisie.

Die produksie is deel van die feesprogram op die Oppiwater Kunstefees vanaf 9 tot 14 April aanboord die MSC Opera, gevolg deur speelvakke by die Fairtree Atterburyteater vanf 23 tot 27 April, die Innibos Kunstefees in Mbombela van 2 tot 5 Julie en die AfriForum Teater van 25 tot 27 September.

Bespreek kaartjies vir die twee voorskoue in Springs en vir al al die speelvakke nou by www.LTickets.co.za, of skakel 011 815 3000.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button