Twee HTS-leerlinge ernstig beseer in botsing
Ouma Rina Burger vra dat die gemeenskap sal saamstaan in gebed vir die twee jong seuns wat in ’n botsing beseer is.
Twee HTS-leerlinge is in die Life Cosmos-hospitaal opgeneem nadat hulle Saterdagmiddag in ’n ernstige motorbotsing betrokke was.
Brandon Joubert en Stephan Greyling (Graad 10) was net na 15:00 op pad om te gaan visvang toe die botsing voor Ogies gebeur het.
Die motor waarin hulle gery het, het met ’n vragmotor gebots.
Brandon was Sondag vir ’n operasie om die bloeding op sy brein te verlig. Hy het sy nek op twee plekke gebreek.
“Dokters hou hom onder sedasie tot Woensdag. Ons sal dan eers weet of daar beweging in sy bene is,” het sy ouma, Rina Burger, gesê.
Stephan is ook geopereer, maar die omvang van sy beserings is nog nie bekend nie.
LEES MEER Brandon is ’n ‘all rounder’ op die sportveld
Brandon en Stephan se families klou vas aan hoop en vra die gemeenskap om vir hulle te bid.
“Bid vir wonderwerke, bid vir die dokters, bid vir bonatuurlike krag vir die families en bid vir Brandon en Stephan,” het Rina gepleit.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: [email protected]
