Daar was sprake dat Nkosi die afgelope naweek vasgetrek is voor hy by ’n huis kon inbreek in Clubville in Middelburg.
Kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) het gesê die buurtwag van Clubville, Gholfsig en Aerorand het booswigte agternagesit wat vir ’n tweede keer probeer het om by die huis in te breek.
Op Maandag 17 Maart het die verdagtes ’n sitkamervenster uitgeslaan terwyl die gesin in die huis was. Die gesin het hul alarm geaktiveer en die diewe het op die vlug geslaan met ’n skootrekenaar as buit.
Saterdag 22 Maart terwyl die gesin in die huis besig was het die verdagtes teruggekeer. Gelukkig het een van die kinders die verdagtes by die sitkamervenster raakgesien. Die verdagtes wou weer die venster stukkend slaan. Die kind het haar ouers geroep waarop hulle die alarm weereens geaktiveer én die buurtwag gekontak het.
Een van die verdagtes is kort daarna vasgetrek. Hy is positief met die inbraak Maandag verbind toe hy met sy arrestasie gesê het hy weet waar die skootrekenaar is.
Na ondervraging is nóg twee verdagtes vasgetrek en een van hierdie mans se beskrywing kom ooreen met dié van Nkosi, een van die aanvallers by Pienaardam.
Nkosi word verbind met die aanval op ’n paartjie by die boshut op Pienaarsdam.
Mnr. Deon van der Merwe en me. Catharina Fourie, voorheen inwoners van eMalahleni, is op 7 Maart in die vroeë oggendure deur ses aanvallers in die boshut oorval. Van der Merwe wat intussen teruggekeer het werk toe is met ‘n panga op sy been gekap en vier keer met ‘n hamer oor die kop geslaan. Hy was bewusteloos na die genadelose aanval.
Fourie is ook met die panga gekap en gemartel. Sy het afgemete vertel hoe sy vir Van der Merwe se lewe gepleit het.
Sy het die verdagte wat Van Der Merwe met die hamer aangeval het, later positief uitgeken nadat sy ’n foto van hom gesien het.
Op die foto pryk Nkosi met sy kenmerkende bokbaardjie net soos Fourie hom beskryf het.
Die verdagte, wat met Nkosi verwar was, en die naweek deur die polisie ondervra is het ook ’n bokbaardjie.
Mnr. Danie Schutte, ’n prokureur van Middelburg is al vertroud met Nkosi. Hy tree op as prokureur vir slagoffers van twee gewelddadige aanvalle waarmee Nkosi positief verbind word.
Die eerste is op 13 Desember 2009 waartydens Nkosi na bewering die slagoffer so erg met ’n hamer aangeval het, dat hy een van sy vingers verloor het.
Schutte het gesê die getuies teen Nkosi is uiters verdoemend en wou nie verder oor die saak uitbrei nie omdat van die feite nog nie in die hof bekend gemaak is nie.
Hy verteenwoordig ook me. Rentia Venter wie se man, mnr. Johan Venter op 22 Januarie 2010 in hul plaashuis doodgeskiet is. Me. Venter is tydens die aanval in die hand geskiet.
“Nkosi se aanvalle is eie aan hom omdat hy in meer as een van die gevalle sy slagoffers met ‘n hamer bygedam het. Ek sê nie noodwendig dis sy ‘handtekening’ nie, dis net toevallig dat in al die gevalle waar hy betrokke is, hy met ’n hamer aanval,” het Schutte gesê.
Schutte het gesê die aanval op Van der Merwe is tipies van Nkosi se werk.
“Nkosi is baie gevaarlik ek hoop hy word binnekort vasgetrek,” het Schutte gesê.
Buiten die moordsaak word Nkosi ook positief verbind met ander sake waaronder menseroof, verkragting en poging tot moord.
Tydlyn
* Nkosi ontsnap op 1 Desember 2009 terwyl hy verhoorafwagtend was op roofsake.
*Op 13 Desember 2009 word Nkosi verbind met ’n plaasaanval. Hy het dié slagoffer met ’n hamer aangeval. Die slagoffer se
beserings was van so aard dat hy een van sy vingers verloor het.
*Mnr. Johan Venter is op 22 Januarie 2010 in sy huis doodgeskiet en sy vrou, Rentia, ernstig gewond.
*Kort na die moord is Nkosi in Carolina gearresteer.
*Op 13 November 2013 ontsnap hy weer, dié keer uit die polisieselle op Middelburg.
*Die Pienaarsdam-boshut aanval op ’n verloofde paartjie vind op 7 Maart 2014 plaas.
