Haar hande bly vryf oor die merke op haar arms en haar neus trek op ’n plooi wanneer sy dan die reuk van haar aanvaller onthou. Die stank bly kleef in haar geheue, soos dit gekleef het aan die meubels en bed na hý daar was… die stank van vrees en angs.
Me. Malinda Crafford vat ’n ruk om die swaar slot te sluit na sy die dik ketting om die staalhek draai. Haar nege-jarige seuntjie waak beskermend agter sy ma by die ingang van die deur en sy oë flits nou en dan na die straat. “Hy wil my nou die heeltyd oppas,” vertel sy as sy hom gewaar agter haar skouer staan.
Na die gebeure wat Donderdagoggend 3 April by die Craffords se huis in Ben Fleur afgespeel het, vind die familie dit moeilik om die nagmerrie te vergeet.
Crafford het die angswekende ondervinding herroep en vertel hoe sy, met haar twee jong seuns in die huis, aangeval en beroof is.
“Dit was nog vroeg in die oggend, so rondom 05:30 en my man was reeds weg. Ek het so ’n klik geluid gehoor soos die van die staalhek as dit oopgesluit word. Toe hoor ek hoe iemand die yskas oopmaak. Ek het gedink dis dalk my seun wat op is om iets te kry.”
Crafford vertel van die skok toe sy skielik ’n skerp koue voorwerp teen haar keel voel druk.
“Hy het agter my gestaan met die wapen…” het Crafford vertel.
Sy het verder vertel hoe die verdagte haar gedwing het om hom na die kluis in die huis te neem. “Al ons geld was daarin,” het Crafford ontsteld gesê en vertel hoe die man haar met haar jongste, vier-jarige seun, se lewe gedreig het. “’I will cut him,’ het hy vir my gesê.” Crafford het vertel hoe die man, met die skerp wapen in sy hand, haar forseer het om die kluis oop te sluit en ’n groot kontantbedrag uit te haal. “Daarna het hy my na die kamer toe gevat waar hy my probeer verkrag het,” het Crafford gesê, terwyl haar hande bly vryf oor krapmerke en snye op haar nek en arms.
Sy het moeilik die gebeure herroep en vertel hoe sy met die man geworstel het, en in die proses beseer is. “Hy het so gestink,” onthou sy die reuk wat haar weer naar maak.
“Ek het my bedlampie gevat en hom oor die kop geslaan. Ek het deur die huis gehardloop en stoele omgegooi met die hoop dat dit hom sal keer.” Sy het die paniek-knoppie wat hul alarmsisteem aktiveer gedruk wat haar aanvaller laat skrik en vlug het.
Crafford meen dat dieselfde verdagte haar reeds ses maande terug al begin teister het, wanneer sy alleen by die huis was. “Ons was al voorheen by die polisie om ’n saak teen die man te maak.” Sy het gesê dat die man voorheen van hul huis se ruite stukkend gegooi het met klippe en ook gesien is waar hy in hul erf rondsluip. “Ek het gedink ek verbeel my toe ek hom die vorige aand (die aand voor die voorval) ruik,” het Crafford gesê terwyl sy weer terugdink. Die reuk van die man, nou verbind met die gevoel van vrees, bly steeds by Crafford spook.
Die verdagte is steeds onbekend, maar kan geïdentifiseer word. Geen arrestasie is sover gemaak nie.
