CrimeNews

Man en werker oorleef panga-aanval

‘Die rower het gedreig om sy keel af te sny’

Nog ’n sinnelose plaasaanval is vroeër die week by die stad se misdaadstatistiek bygevoeg.
Die 58-jarige mnr. Frik Bodenstein en een van sy werkers, net bekend as John, sterk tans in onderskeidelik Life Kosmos Hospitaal en Witbank Hospitaal aan nadat hulle Dinsdag 15 April op die plaas in die Zaaihoek-omgewing aangeval is.

Bodenstein se skoondogter, Elmarie het vertel dat Bodenstein soos al die ander oggende petrol uitgevat het vir die trekker en sae.
Hy huur die grond op Inyandamyn waar hy al vir meer as 10 jaar houtskool maak.
“My skoonpa het die vorige dag vir John laat weet hy bring ’n saag wat hy reggemaak het vir hom terug. Hy het John, wie op pad werk toe was,  langs die pad opgetel,” het Elmarie gesê.

Sy het gesê haar skoonpa het dit baie vreemd gevind dat ’n hek wat na een van die kampe toe lei en altyd oopgestaan het, toe was.
Met die wat Bodenstein uit die bakkie geklim het om die hek oop te maak is hy deur een van die rowers verras wat ’n pistool op hom gerig het. John is van agter die bakkie afgeruk.

Bodenstein het gesê iemand het hom toe met iets wat soos ’n stok voel van agter af geslaan.
Die wrede aanval is diep in Bodenstein se oë afgeëts, hy onthou dat nog ’n rower hom aangehou skop en met die plat kant van ’n panga geslaan het.
“Die een rower het al my skoonpa se geld bestuurderslisensie en selfoon gevat. Hulle het toe in die bakkie gaan grou en die toue agter die sitplek gekry waarmee hulle my skoonpa en John aan hul hande en voete vasgemaak het en vier meter op hul maag en gesigte in die bos in gesleep het.”

Elmarie het gesê Bodenstein herleef die oomblikke toe die een rower die panga teen sy keel druk en gevra het vir sy bankkaart en pin-nommer.
“Die rower het gedreig om sy keel af te sny.”

Die vier rowers het toe in Bodenstein se Mahindra bakkie gespring en weggejaag.
Die twee geskokte mans het dit reggekry om die toue los te wikkel en John het Bodenstein vier kilometer na die volgende kamp gehelp loop. Bodenstein het té veel bloed verloor en was te swak om self te loop.

Hulle het toe een van die werkers by dié kamp se selfoon gebruik om Bodenstein se seun Francois te skakel.
“My man het skaars my dogtertjie by die skool afgelaai toe die werker hom bel en sê my skoonpa is aangeval hy moet dringend kom help. Toe my man en my broer daar aankom was my skoonpa baie swak en erg vol bloed. Hulle het hom en die werker in die bakkie gehelp en hospitaal toe gejaag,” het Elmarie die gebeure saamgevat.

Bodenstein word behandel vir twee diep snye wat deur die panga veroorsaak is en sy skedel is ook gekraak. In sy pogings om die aanval te keer is sy pinkie gebreek. Sy geswelde gesig vertel op sy eie van die traumatiese ondervinding wat hy deurgemaak het.
John word ook behandel vir beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het.

As iemand Bodenstein se wit Mahindra bakkie met die registrasienommer DTB 244 MP opmerk, skakel Elmarie op 076 418 9050. Die bakkie het tralies om.

Dié wit Mahindra bakkie is tydens ’n plaasaanval gesteel.
Dié wit Mahindra bakkie is tydens ’n plaasaanval gesteel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button