Breinbeserings na val
“Daar is niks… daar is net niks,” het haar stem gebreek. Die werklikheid van wat gebeur het ruk aan haar hart en sy klink gebroke.
Familie en vriende staan saam in gebed vir mnr. Jano Senekal (40) wat in ’n kritieke toestand in Life Kosmos Hospitaal verkeer na ’n motorfietsongeluk Vrydag 18 April naby Blinkpan.
“Hy het op die grondpad gery naby die dam, net ’n blok van ons huis af,” het Senekal se vrou, me. Sonja Lewis, vertel. Lewis wat betrokke was by die N12 Roadside Angels-projek wat die afgelope naweek vanaf 17 tot 21 April plaasgevind het, het vertel van die skok toe sy die oproep kry, na Senekal se ongeluk.
Sy het, deur trane, vertel wat ooggetuies gesê gebeur het.
“Die mense wat daar naby vis gevang het, het gesê dat hul hom gesien het waar hy gestop het, terwyl die motorfiets nog ‘idle’. Hy het toe verder gery en gestop en weer gery. Daar was ’n modderpoel in sy pad en ek dink nie hy het geweet hoe diep die modderplas was nie.”
Dit wil voorkom of die motorfiets se wiel in die modder vasgesteek het en Senekal van die motorfiets afgeslinger is.
Hy is met ernstige hoofbeserings per ambulans na die hospitaal gehaas.
“Ons het gedink hy gaan dit nie maak nie,” het Lewis Dinsdag 22 April gesê.
Sy het verder gesê dat Jano ernstige breinbeserings opgedoen het en weer vir ’n breinskandering sou gaan. “Hy het sy oë oopgemaak, maar het nog nie gereageer nie… Ek het laas jaar my kind in ’n motorongeluk verloor, asseblief net nie ook my man nie…”
Lewis het gevra dat almal wat hom ken, asseblief vir hom sal bid.
