Langs die droë bloedkol in die sand wat vertel dat hy hier meedoënloos met ’n panga gekap is, het hy sy oë gesluit en dankie gesê dat hy nou soggens vir sy geliefdes kan môre sê.
“Dit gaan goed,” het mnr. Frik Bodenstein (58) gesê en diep uit sy maag uit gelag en gesê, “Ek lewe!”
Bodenstein is Donderdag 17 April uit Life Kosmos Hospitaal ontslaan waar hy behandel is vir diep snye, ’n gekraakte skedel en gebreekte pinkie nadat hy twee dae vroeër aangeval is.
Hy en een van sy werkers, net bekend as John, was op pad na sy houtskoolfabriek toe hy agterkom ’n hek wat normaalweg oop staan, is toegemaak. Omdat die tralies op die bakkie hoog was, het hy in plaas van wag dat John wat agter op die bakkie was gou afspring en die hek oopmaak, self uitgeklim en die hek oopgemaak.
“Ek het uit die bakkie geklim om die hek oop te maak en toe staan daar ’n man met ’n pistool wat hy op my rig.”
Bodenstein is toe van agter af deur nog ’n rower oor die kop geslaan. Die vier rowers het Bodenstein aanhoudend geskop en geslaan, een van hulle het hom drie keer oor die kop geslaan met die plat deel van die panga en ook in sy gesig daarmee gekap.
John is van die bakkie afgepluk en ook geslaan. Albei is vasgebind en in die nabygeleë bosse ingesleep waar die rowers Bodenstein se selfoon, bankkaart en selfs sy sakdoek gevat in die bakkie geklim en weggejaag het.
Bodenstein en John het mekaar losgemaak en na die naaste werkerskamp sowat 2km verder gestap.
“Op pad daarnatoe het ek drie keer my bewussyn verloor en ek onthou dat John my regop gehou het.”
Een van die werkers het Bodenstein se seun Francois gebel. Francois en sy swaer Barend het die bebloede mans hospitaal toe geneem.
“Hoe meer ek die prentjie inkleur hoe duidelike word dit dat die dalk ’ wraakaanval kon wees,” het Bodenstein vertel.
Hy het gesê dat hy een van die saag-operateurs wat by hom in diens was huis toe gestuur het nadat hy probleme met hom ondervind het. Bodenstein het gereël om sy loon Vrydag 11 April aan hom te betaal.
“Dit het my nou eers opgeval dat dit snaaks was dat hy verkies het dat ek hom die volgende Dinsdag eers betaal. Wie sal nou ’n hele naweek deurgaan en vra om eers die Disndag betaal te word,” het Bodenstein gevra.
Hy het gesê dat hy die spesifieke werker Dinsdagoggend langs die pad gekry en gevra het om net daar te wag sodat hy eers net die ander werkers aan die gang kan kry.
“Die legkaart pas nou in mekaar in, want kort daarna is ons aangeval. Die spesifieke werker was nie onder die rowers nie, maar ek is seker hy het iets te doen gehad met die beplanning van die aanval.”
Bodenstein het genoem dat die aanvallers nie ’n plaaslike taal gepraat het nie.
Die Mahindra-bakkie waarmee die rowers gevlug het, is later naby die korrektiewe dienste gevind.
“My beskermengel het oortyd ingesit, hierdie was ’n ‘wake-up call’. Ek kan nie ophou glimlag nie, want ek het ’n tweede kans gekry.”

