Hartseer na man in hospitaal sterf
“Hy het net slegter geword... Sy lippe droog en vol sere soos hy daar gelê het met niemand wat omgee nie.”
Me. Veronica Swanepoel het met trane in haar stem vertel van haar man, Johan Swanepoel (64), se agteruitgang na hy op 26 April in die Witbank Algemene Hospitaal opgeneem is met erge longontsteking en emfiseem.
Mnr. Buks Potgieter, Swanepoel se skoonseun, het op Dinsdag 29 April by die WITBANK NUUS kom kla oor die swak dienslewering en behandeling wat sy skoonpa na sy opname ontvang het.
“Tot gisteraand, 19:00 die 28ste April, het daai man niks kos ingeneem of
vloeistof gekry nie. Hy kry geen suurstof , geen drip op nie en hy’s heeltemal
gedehidreer.”
Swanepoel het ook vertel dat alhoewel koue lug nie goed is vir ’n pasiënt met longontsteking en emfiseem nie, die kamer se vensters oop gevind was na sy haar man besoek het.
“In die vertrek het stukke toiletpapier rond gelê met ontlasting. Hy het met ’n doek gelê sonder ’n hemp op die bed,” het Potgieter ook verder verduidelik en gesê dat die nagklere wat hy aan gehad het met opname ook nie omgeruil was nie. “Eers na die derde dag was hy ’n drip aangesit en suurstof gegee.”
Op 1 Mei is Swanepoel oorlede. Die familie blameer Swanepoel se verswakking wat gelei het na sy dood op die swak behandeling en gesondheidsdienste.
Mnr. Ronnie Masilela, provinsiale woordvoerder van Mpumalanga Gesondheidsdepartement, het na navraag voorgestel dat die familie die saak opneem met die hoof van die hospitaal. “As die familie dan nie satisfaksie ontvang moet hul dit so aandui aan die hoof uitvoerende beampte en dan die saak verder neem na die hoofkantoor, wat ek self sal hanteer.”
*Die roudiens vir Swanepoel was op Dinsdag 6 Mei by die AGS Oasis Gemeente in Reynorif gehou.
