‘Soen Zylan vir my’
Die oorsaak van die brand wat die lewe van ’n ma en haar seuntjie geëis het, moet nog bepaal word.

’n Forensiese span van die polisie in Pretoria het die woonstel waarin die tragedie Sondag 18 Mei plaasgevind het, vroeër die week gefynkam vir leidrade wat meer lig op die ondersoek sal werp.
Dr. Karel Block die patoloog wat die lykskouing behartig het, het bepaal dat die oorsaak van Michelle Oosthuizen (18) en haar 23 maande oue seuntjie, Zylan se dood, rook inaseming was.
Volgens Michelle se ma, me. Monica Mostert het haar dogter die oggend nie lekker gevoel nie. Daar word bespiegel dat sy aan die slaap kon geraak het, terwyl Zylan op die mat in die sitkamer gespeel het. Die moontlikheid bestaan dat Zylan dalk met ’n aansteker gespeel het wat die mat laat vlam vat het. Die vlamme het vinnig versprei.
Mnr. Danie Scheepers, die eienaar van die erf waarop die woonstel is, het gesê hy was in die kerk toe hy ’n oproep van Michelle ontvang het.
“Sy het angsbevange geskree die woonstel brand en sy en Zylan kom nie uit nie,” het Scheepers gesê.
Hy het probeer om me. Mostert asook Michelle se boetie, Michael, wat ook op die erf woon, te skakel, terwyl hy huistoe gejaag het. Hy kon egter nie een van hulle in die hande kry nie.
Toe hy by sy erf aankom het hy Michael en mnr. Gerhard Oosthuizen, Michelle en Michael se pa wakker gemaak.
Intussen het ’n buurvrou wat agter Scheepers bly, me. Charmaine van der Westhuizen, die rook sien uitborrel en gedink iemand brand bande.
Haar lewensmaat, mnr. Willie Pretorius en sy broer mnr. Hendrik Pretorius het omgejaag om te gaan kyk. Toe hulle by die hek stop was Scheepers reeds by die woonstel besig om die deur af te skop.
Van der Westhuizen het die verloop van die gebeure se drade opgetel: “Danie het Zylan in Monica se arms gesit, Gerhard en Michael het ook die woonstel ingegaan en Michelle uitgehaal en haar vir my gegee.”
Van der Westhuizen het in haar kar geklim en mnr. Hendrik Pretorius het met hulle na Witbank Provinsiale Hospitaal gehaas.
“Ek het gebid, gepleit en die Here gesmeek, maar dit was tevergeefs. Michelle het gesug en is in my arms dood, voor ons by die hospitaal kon kom,” het Van der Westhuizen gesê.
Nog ’n buurman wat in die omgewing bly, mnr. Charl Smith, het aangejaag gekom en Monica met haar kleinkind in haar arms ook na die hospitaal gejaag.
Mostert het verwese voor haar uitgestaar en gesê, “Zylan het ’n snaakse geluidjie gemaak, sy nekkie het slap geword en ek het geweet hy is weg. Die Here moes my gevat het, hoekom vat Hy my kosbaarste besittings? het sy hartseer gesê.
Mnr. Jandré Bezuidenhout, Michelle se verloofde en Zylan se pa, was by vriende toe die woonstel aan die brand geraak het. Michelle het die woonstel die vorige dag uitgeverf en omdat Jandré asma het, het sy aangedring dat hy eerder by vriende oorslaap.
Jandré het gesê daar is nog soveel vrae wat in die lug hang. “Daar is so baie vrae waarvoor ek net nie antwoorde kry nie. Michelle en ons Zylan is té vinnig uit my lewe gevat. Ek mis hulle ontsettend baie en ek gaan my lewe so leef om eendag saam met hulle te wees. Bye my liefde tot ek jou weer vashou, bye my beertjie kyk mooi na mamma.”
Hy het op Facebook die volgende boodskap vir Michelle gelos: “Soen Zylan vir my.”
“Zylan is besig om al die engele in die hemel op ’n hoop te jag. Ek weet Michelle hardloop agter aan hom. Daar wag ’n besige tyd vir die engele voor,” het Mostert hartroerend gesê.
Michelle het verlede week op 14 Mei haar 18de verjaarsdag gevier. Zylan sou Maandag 26 Mei twee jaar oud geword het.
Jandré se ouers, mnr. Francois en me. René Bezuidenhout het gesê dat hulle oorval is met mense wat hulp aangebied het. “Vir hierdie mense kan ons nie genoeg dankie sê nie. Dis goed om te weet daar is soveel wat omgee.”
*Michelle en Zylan word veras. ’n Roudiens vind Donderdag om 11:00 by die Methodiste Kerk in Louisestraat plaas.



