Ongeluk op N4 eis man se lewe
Honderde motoriste het die afgelope die N4 gebruik min wetend dat skaars ’n paar kilometer voor die tolhek, het ’n kar gerol en die bestuurder is dood.
Die N4 Trac hulpdiens het tydens ’n roetine-patrollie Maandag 26 Mei op die ongeluk waarin mnr. Chris de Beer (48) dood is, afgekom.
De Beer is uit die kar geslinger en het sowat 30m van sy BMW X5 gelê. Die kar was nie sigbaar vanaf die pad nie.
Die ongeluk moes volgens sy vrou, me. Elsie de Beer, reeds Sondag 25 Mei omstreeks 00:30 plaasgevind het.
“Ons het bekommerd begin raak toe almal Sondag begin bel en vra waar Chris was. Niemand het hom gesien sedert hy Saterdag by vriende in eMalahleni gaan kuier het nie,” het me. De Beer gesê.
Sy was steeds baie geskok en het vertel al het hy ’n opsporingstoestel op sy kar gehad, sy geen hulp van hulle ontvang het nadat sy keer op keer gebel het nie.
“Hulle het gesê hulle wil met Chris praat en ek het bly sê ek is juis op soek na Chris, want ons dink hy is dalk gekaap.”
Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van die ongeluk was nie. Die nadoodse ondersoek is vroeër die week gedoen en daar word nog gewag vir die uitslag daarvan.

De Beer is die afgelope sewe jaar in Middelburg woonagtig. Hy het by Truck Centre in Middelburg gewerk.
Me. Melissa Marais wat saam met De Beer gewerk het, het hom beskryf as die man wat ’n pa vir almal was. “Hy was fantasties, hy het soveel wêreldwysheid gehad wat hy met ons gedeel het. Jy kon Oom Chris altyd deur ’n ring trek,” het sy gesê.
De Beer word in Pretoria begrawe.
* Sien die video hier
Skaars drie weke terug het me. De Beer haar suster me. Sonja Lewis onderskraag toe háár lewensmaat begrawe is.
Me. Lewis het op 9 Mei gebroke haar suster se hand vasgeklou toe sy moes afskeid neem van die man saam met wie sy al meer as 14 jaar gebly het.
Mnr. Jano Senekal (40) is dood nadat hy ernstige hoofbeserings opgedoen het na ’n frats motorfietsongeluk.
Dit wil voorkom of die motorfiets se wiel in die modder vasgesteek het en Senekal van die motorfiets af geslinger is.
