Ouers waarsku teen talentsoekers
“Die huis was leeg behalwe vir ’n paar matrasse wat op die vloer gelê het… Dit was vuil en duidelik onbewoond.”

Na ’n talentsoeker (op soek na jong, mooi ‘ballerina’s’) Gr.10 meisies van die Hoër Tegniese Skool genader het om in ’n musiekvideo op te tree, het sterre geglinster in die oë van die hoopvolle dansers wat die geleentheid vir beroemdheid raakgesien het.
Mnr. Mark Geldenhuys en menige ander besorgde ouers het wel dié ‘glansgeleentheid’ twyfelagtig gevind.
“Die mans van die musiekgroep het glo by die skool opgedaag en gesê dat hul dansers soek vir die video wat hul wil maak. Hulle het nie gevra dat die dansers eers moet dans nie, maar gesê dat hul in ’n ry moet staan en die meisies wat hulle gesoek het sommer so uitgewys. In plaas daarvan dat die mense deur die skool werk, het hul die meisies se eie selfoonnommers en persoonlike besonderhede gevat,” het Geldenhuys gesê.
Meer ouers van die leerders het bevestig wat Geldenhuys vertel het. “Ons kon nie ons kinders sommer net saam met die mans laat gaan en so blootstel nie,” het me. Amanda Pretorius bygevoeg. Die groep dansers wat ‘gekies’ was, is gesê om Saterdag 24 Mei voor die skool bymekaar te kom waarna hul saam sou gaan na die huis, waar hul die musiekvideo wou maak.
“’n Groep pappas het net besluit hul gaan saam ry om seker te maak ons dogters is veilig,” het Pretorius gesê.
Geldenhuys het verder vertel hoe hul by ’n groot huis in Modelpark opgedaag het. In plaas daarvan dat die ouers gerus gestel is, het hul net nog meer onrustig geraak, want die huis was feitlik leeg.
“Ons het besluit om om die huis te loop,” het Geldenhuys gesê en vertel hoe hul toe ontdek het dat die huis feitlik onbewoond is. “Ons het by die vensters ingekyk en gesien dat die plek leeg staan. Daar was geen ander meubels in die huis behalwe vir ’n paar matrasse op die grond nie,” het Geldenhuys ontsteld gesê.
“Ek het dadelik my dogter gekry en gesê: ‘hier gaan ek jou nie los nie!’”
Geldenhuys en die ander ouers het seker gemaak dat al die leerlinge teruggeneem word na die skool en na hul huise.
“Daar was geen kameras of toerusting eers opgestel vir die ‘video’ wat hul kamstig sou maak nie. Die gedagte van wat kon gebeur het met my kind as sy en die ander alleen na daai huis toe moes gaan het…” het Pretorius gesê.
’n Saak is by Witbank Polisie geopen, na die ouers se mening dat dié dalk ’n poging tot ontvoering of selfs verkragting kon wees.
Die organiseerder van die musiekgroep het aan WITBANK NUUS gesê dat die musiekvideo waarin hul ballerina’s nodig gehad het, ’n werklike projek is. Oor die leë huis wou hy nie uitwei nie en het net gesê dat hy nie kan sien wat die probleem daarmee is nie. Die man het ook beweer dat hy die skool toestemming gevra het om dansers vir die video te kry.
Mnr. André Strydom, hoof van HTS, het egter gesê dat hy glad nie toestemming gegee het vir die musiekgroep om die leerlinge toe te spreek nie en ook dat hy ’n lid van die groep ’n vorige keer weggewys het toe hy op die skoolterrein opgemerk is.
“Ek het die Gr.10 leerlinge oor die saak aangespreek en ook ’n boodskap aan die skole in die omgewing gestuur om hul in kennis te stel,” het mnr. Strydom gesê.
Die saak word verder ondersoek.
