Moordenaar kry lewenslank
Die man wat skuldig bevind is aan die moord van Werner Broodryk is verlede week gevonnis.
Landdros Magriet Cook het Lasarus Tau op 28 Mei in die Bronkhorstspruit Streekhof lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op die jongman.
Die 18 maande wat gevolg het na die moord op Werner op Vrydag 23 November 2012 het diep letsels op sy pa, mnr. Louis Broodryk gelaat.
Hy was emosioneel toe hy vertel dat sy seun se moordenaar uiteindelik gevonnis is, nou kan hy daardie een hoofstuk van sy lewe afsluit.
Maar die een hoofstuk waardeur hy altyd sal blaai is die een waarin hy sy hartseer verberg toe sy seun op die jong ouderdom van net 26 jaar wreed van hom af weggeruk is.
Werner, wat in die Lelanipark-veiligheidskompleks in Bronkhorstspruit gebly het, is ongeveer 03:00 deur rowers in sy huis oorval en doodgeskiet.
“Dit sal altyd seer wees. Pille kan pyn wegvat, maar daar is niks wat die seer sal kan wegvat nie,” het Broodryk gesê.
Vir versagtende omstandighede is daar in die hof aangevoer dat Tau net 27-jaar oud is en self die pa van ’n vyfjarige kind is. Die verdediging het gesê Tau vra vir ’n tweede kans.
“My kind het nie ’n keuse gehad nie. Hy is koelbloedig vermoor. Hy het nie die voorreg gehad om te vra vir ’n tweede kans nie. Hy sal nooit getroud wees nie, hy sal nooit sy eie kinders kan vashou nie. Dit het julle van hom ontneem,” het Louis gesê terwyl hy Tau reguit in die oë gekyk het.
Tau is op 18 Mei in Zithobeni net buitekant Bronkhorstspruit gearresteer nadat die polisie inligting ontvang het oor waar hy homself bevind.
’n Tweede verdagte net bekend as Mabua is glo twee weke na Werner se moord in ’n hospitaal dood. Dit is egter nog nie bevestig nie. ’n Derde verdagte is nog op vrye voet.
“Die drie name van die verdagtes is in my hart vasgebrand. Twee van hulle is gesiglose moordenaars. Dankie Here ek kon Tau in die oë kyk toe hy gevonnis is,” het Broodryk gesê.
Sy oë het geblink toe onthou hoe hy is sy seun se bloed moes trap om by sy Bybel uit te kom.
“Kyk, hier het Werries self onderstreep,” het hy hartseer gesê en gewys na Levitikus 24:17: ‘Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. As iemand ‘n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: ‘n lewe vir ‘n lewe…’
“Is dit ’n boodskap wat Werries vir my gelos het? Was dit God wat Werries voorberei het op wat gaan gebeur?” is van die vrae waarmee dié pa worstel.
Werner se broer, Retief, het die aand van die vonnisoplegging sy graad ontvang in Sportwetenskappe.
“Beide my seuns is my trots. Op een dag ontvang Retief sy graad, vroeër die oggend het ek sy jonger broer se moordenaar sien tronk toe gaan vir wat hy gedoen het. Hoe onregverdig is dit?”

Broodryk het sy seun se as onder ’n klip in sy tuin begrawe. Elke aand kyk hy uit op die lig wat langs die klip skyn en hy weet sy seun is naby.
“Moenie wag om vir jou kinders te sê jy is lief vir hulle nie. Moenie uitstel nie.
Die oggend terwyl ek Bronkhorstspruit toe gejaag het kort nadat ek gehoor het Werner is dood, het ek by God gepleit en gesmeek dat hy nog lewe sodat ek net nog een keer vir hom kan sê ek is lief vir hom. Dit was té laat.”
Broodryk het gesê die pad die afgelope paar maande was hel gewees en hy sou dit nie kon doen sonder die bystand van vriende in sy lewe nie.
“Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir my broer, dr. Johan Broodryk, André Coetzee en die ondersoekbeamptes, majoor Johan Swart en a.o Adriaan Mavulela nie.”
Werner het by Laerskool Kragbron skoolgegaan en het by die Hoër Tegniese Skool Middelburg sy hoërskoolloopbaan voltooi.
Hy het voor sy dood elektriese werk vir Eskom gedoen.
