CrimeNews

15-jarige glo deur dwelmhandelaars ontvoer

"My seun het gesê dat hy deur Nigeriese dwelmhandelaars ontvoer en na Johannesburg geneem is waar hy seksuele dade met prostitute moes doen."

‘n Warboel van emosies oorweldig die vrou kort-kort terwyl sy vertel van die dwelmhel waarin haar 15-jarige seun hom bevind.

Die seun is tans in ‘n rehabilitasie-sentrum. Hy is verslaaf aan heroïen en het op die ouderdom van 12 jaar reeds begin om dwelms te gebruik.

“Ek soek hom oral, ek wil hom by my hê en styf vashou. Hoe beskerm ek hom teen die wreedheid van die lewe as hy nie by my is nie?” het die ma gevra.

‘n Makabere verhaal het ontvou nadat die seun positief getoets is vir die dwelm.

Die ma het vertel dat haar seun soos alle ander tieners saam met vriende gekuier het en ook soms uitgegaan het. Nooit het sy gedink dat hy met dwelms betrokke is nie. Nadat die skool haar geskakel het oor gedragsprobleme het sy hom na Extreme Buddies geneem om vir dwelms getoets te word.

“Ek was onder die indruk dat hy dalk net dagga gebruik.”

Op pad huistoe het die seun sy ma vertel van die hel waarin hy hom bevind.

“Ek hoor nog steeds sy smeking: ‘Kan ma my help?’ Daardie sinnetjie spook by my.”

Die seun het aan sy ma gesê dat ‘n inbraak by hulle huis so drie weke vantevore deur Nigeriese dwelmhandelaars gereël is omdat hy hulle geld skuld. Hy moes ook glo ‘n brief teken om sy skuld te herken.

“Hulle het hom gedreig dat hy ons nooit weer sou sien nie.”

Die ma het gesê sy was bekommerd toe haar seun een middag nerfaf by die huis aangekom het.

“Ek het eers later uitgevind hy het die skaafwonde opgedoen toe die dwelmhandelaars hom uit ‘n bewegende kar gegooi het.” Die seun se ouers leef nou in vrees. Die dwelmhandelaars het hul huis se alarmkode en hulle weet hulle is nie meer veilig nie.

“Ek het nou die dag ‘n Bybel gekry. Ek lees en ek bid vir die eerste keer in jare,” het die ma gesê.

Haar liggaam het tussen die snikke deur geruk “ek weet nie waar die geld vandaan gaan kom om my kind in die rehabilitasiesentrum te hou nie.”

Me. Elize Banks, uitvoerende direkteur van Extreme Buddies het gesê in die nege jaar wat sy betrokke is in die berading en ondersteuning van dwelmverslaafdes in en om eMalahleni, het sy besef mense is nie regtig bewus van die “stil sluipmoordenaar” wat besig is om jongmense se lewens totaal te verwoes nie.

“Dwelmmisbruik is ‘n geheime lewe. Ongelukkig is dit so dat eMalahleni tans die hoogste persentasie van dwelmhandel en misbruik in ons land het. Verslaafde mense beweeg daagliks tussen ons rond. Hulle lyk soos gewone mense, soms uitstekende werkers, maar hulle is verslaaf aan ‘n middel wat help om te vergeet van hul seer en probleme. Hul afhanklikheid raak al dieper en dieper en die gemeenskap word eers daarvan bewus wanneer hul leuens en diefstal ons persoonlik begin raak,” het Banks gesê.

As jy die seun wil help, skakel Elize: 083 226 3689. Sy het daaglikse kontak met die ma.

*Die ma en seun word anoniem gehou om hulle te beskerm.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button