CrimeNewsUpdate

Panga-aanval slagoffer verlig oor polisie se besoek

Die polisie het vroeër die week by die panga-aanval slagoffer ’n draai gaan maak.

Nadat die WITBANK NUUS dit onder die polisie se aandag gebring het, dat nog geen besoek aan mnr. Frik Bodenstein gebring is na ’n aanval op hom nie, het hulle onmiddellik opgetree.

Bodenstein (58) en een van sy werkers, net bekend as John was op 15 April op die plaas waar hy ’n houtskoolfabriek het, aangeval.
Die polisie het Bodenstein se verklaring in die hospitaal geneem en van daar af het hy geen woord van hulle gehoor nie.

“Ek het my vertroue in die polisie verloor. Na 10 weke en ek kry nie eers ’n telefoonoproep om my op hoogte van die ondersoek te bring nie. Dis onaanvaarbaar,” het Bodenstein gesê.

Maar nadat kapt. Chris van der Merwe en a.o. Zjaak Willemse Dinsdag 1 Julie by Bodenstein op die plaas was, het Bodenstein se siening oor die manne in blou ietwat verander.

Hy het hulle na die toneel geneem waar hy en John deur vier rowers aangeval is.

Die rowers het Bodenstein by ’n hek, wat gewoonlik oop staan, verras. Toe hy die hek oopmaak is hy van agter af deur een van die rowers oor die kop geslaan. Die rowers het hom aanhoudend geskop en geslaan, een van hulle het hom drie keer oor die kop geslaan met die plat deel van die panga en ook in sy gesig daarmee gekap. Ook John is aangeval. Hy is van die bakkie afgepluk en ook geslaan. Die twee mans is vasgebind en in die nabygeleë bosse ingesleep waar die rowers Bodenstein se selfoon, bankkaart en selfs sy sakdoek gevat in die bakkie geklim en weggejaag het.

Die bakkie is later naby Paxton Korrektiewe Dienste teruggevind.
“Ek is so dankbaar vir kapt. Van der Merwe en a.o Willemse. Nou weet ek die ondersoek is in goeie hande,” het Bodenstein gesê.

Hy het genoem dat hy verlede week vir geestelike berading gegaan het en ook ’n dokter gaan sien het. Die dokter het aan hom medikasie voorgeskryf.
“Ek het heeltemal ingegee. Na die besoeke aan die berader en dokter het ek vir die eerste keer in vier aande gaan slaap,” het hy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button