Skok na liggaam laat is vir besigtiging
Doves Begrafnisdienste is weer in die warm water.
Die stof het nog nie gaan lê na ’n berig in ’n nasionale dagblad oor hul diens aan ’n familie in Boksburg nie, of hulle slaan weer vure dood, dié keer in eMalahleni.
Me. Lizet Roets is moeg. Sy is moeg baklei, moeg gepraat, moeg om tevergeefs te probeer om haar oorlede man die laaste eer te gee wat hom toekom.
Mnr. Johan Roets, wat Sondag 29 Junie aan ’n hartaanval dood is, was teen Dinsdag 8 Julie nog nie veras nie.
‘Julle moet eers R2 544 betaal voor dat ons mnr. Roets laat veras,” het die ontvangsdame by die begrafnisondernemer, net bekend as KB, gesê.
Sy het voet by stuk gehou dat Doves ’n professionele diens aan die Roets familie gelewer het.
“As dit diens genoem word, dan wil ek nie weet aan watter standaarde hul hulself meet nie,” het me. Roets emosioneel gesê.
Mnr. Bruce Kirton, ’n vriend van Roets het gesê dat die gebeure wat van sy vriend se sterfte tot nou afgespeel het meer soos ’n fliek lyk.
Nadat Roets dood in sy meenthuis aangetref is het me. Roets Doves ses keer geskakel, maar niemand het geantwoord nie. Sy het haar na ’n ander begrafnisondernemer gewend wat Roets na hul begrafnisonderneming vervoer het. Doves het hom uiteindelik die volgende dag daar gaan haal.
“Die familie moet nog R700, wat ek uit ons kleinkas moes betaal om mnr. Roets te gaan haal, betaal. Hulle skuld ons die geld,” het KB gesê.
Toe me. Roets Maandag 30 Junie by Doves aankom is sy begroet deur ’n prentjie wat sy nooit uit haar geheue sal kan uitwis nie. Bloed en vog het uit Roets se mond en ore gestroom.
“Behalwe vir als wat oral uitgestroom het, het Johan rustig gelyk asof hy slaap,” het me. Roets gesê.
Sy was elke dag daarna by Doves om reëlings vir Roets se roudiens te maak. ’n Lykskouing sou eers om 14:30 plaasvind en daarna die diens om 15:00.
Vrydagoggend het KB me. Roets geskakel en gesê hulle kan die kerkblaadjies nie druk nie.
Die weduwee het die foto’s en lint wat in die blaadjies moes kom gaan optel en na Doves in Middelburg gejaag waar sy dit inderhaas self moes laat druk.
Intussen het sy ’n vriendin, me. Ashanti Strydom na die begrafnisondernemer gestuur om haar man se klere te gaan aflaai, aangesien sy nog besig was om die blaadjies te druk.
Teen die tyd wat die roudiens moes begin het die lykswa nog nie opgedaag nie.
“KB het my laat weet hulle sukkel om Johan in die kis te kry. Dit was 15:15,” het me. Roets gesê. Sy het Kirton en nog twee vriende gevra om te gaan help om die liggaam in die kis te kry.
“Ek was heeltemal geskok toe ek by die begrafnisondernemer aankom. Johan was nog nie eers gewas, voorberei of aangetrek nie. Ek het my vriend gewas en met die hulp van twee ander vriende het ons hom aangetrek,” het Kirton gesê.
“Johan se mond en oë het bly oopgaan. Ek wil dit nie eers onthou nie. Dit is my vriend daardie, my broer hoe onmenslik is hy nie behandel nie?”
Daarna moes hy nog help om Roets se kis aanmekaar te kry, dié was nog nie eers gedoen nie.
Kirton het met die polisie gereël dat die Vito waarin die kis vervoer word ongehinderd deur die verkeer kon ry tot by die kerk. Hulle het eers na 16:15 by die kerk aangekom.
KB het gesê dat sy onder die indruk was dat me. Roets haar man se liggaam self sou kom was en hom aantrek vir die diens. Sy het gesê sy was nie op kantoor nie, omdat sy geld gaan bank het.
Sy wou geen kommentaar lewer oor die kerkblaadjies wat nie gedruk kon word nie en het die areabestuurder, mnr. Sipho Sibiya geskakel.
Hy het telefonies aan WITBANK NUUS gesê hy het reeds ’n interne ondersoek na die voorval gelas.
Op die vraag wanneer Roets dan veras gaan word, het KB gesê, “Tot ons betaal word vir die verassing doen ons niks verder nie.”
Me. Irma Oberholzer van Solidariteit het gesê dat Roets begrafnisvoordele geniet omdat hy ’n lid van Solidariteit was. Die voordele dek net tussen-dienste. Die familie gaan self die R2 544 moet betaal om Roets te laat veras
