MunicipalNews

Iets ‘fishy’ in Klipfonteindam

“Daar is nie meer ’n lewendige vis in daai dam nie,” meen inwoners wat naby Klipfonteindam woon.

Sondag 6 Julie is die eerste van die massa dooie visse opgemerk langs die wal van die dam, na ’n familie (op ’n uitstappie) die nare reuk en toe die aaklige sig van die dooie visse aangetref het.

’n Klomp vis is ook gevind waar dit tussen afval en rommel in die water dryf. “Die visse se mae is sommer so opgeswel,” het een van die inwoners wat die visse van naby besigtig het, gesê. “Hulle sal definitief daai water moet toets, want iets is nie lekker daar nie!”

Natuurkenner, mnr. Johan Combrink van Witbank Natuur Reservaat het gesê dat daar verskeie moontlike redes kan wees hoekom al die vis skielik dood is. “Riool wat in die dam inloop kan heel moontlik die oorsaak wees. Riool oorverryk die water en veroorsaak dan dat alge in die water groei,” verduidelik hy. “Die proses word Eutrofikasie genoem – en dit veroorsaak dan dat die alge al die suurstof in die water opgebruik.”

Combrink meen dan dat temperatuur ook miskien ’n rol kon speel en verduidelik dan hoe ’n skielike verandering in die klimaat invloed kan hê op die ekologiese stelsel.

Die groen alge wat dik lê op die water en gereelde riool-probleme wat gerapporteer word, het inwoners wel oortuig dat riool ’n groter invloed kan hê op die dood van die visse.

“Ons het dit al van tevore gesien, soos by die Hartebeespoortdam ’n paar jaar terug, waar daar riool in die dam ingevloei het en die visse ook gevrek het,” vertel Combrink dan verder en noem nog ander soortgelyke gevalle. “Dit is alles net spekulasies,” voeg hy dan by en meen dat toetse eers gedoen sal moet word om vas te stel wat die werklike oorsaak van die vrektes is. Hy waarsku dat mense onder geen omstandighede die vis moet eet nie.

Meer en meer dooie visse word daagliks opgemerk by die dam en inwoners vrees nou vir die gesondheidsrisiko’s wat dit inhou as die vis net daar gelos word.
“Dis ’n nes daar! Dit sal beter wees as die dam eerder net heeltemal leeggemaak word!” het nog ’n inwoner ontstoke vertel.

Die munisipaliteit het voor druktyd nog geen terugvoer gegee oor die situasie nie.

*Video van dooie visse by Klipfontein dam.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button