Besighede wat al jare lank op die muur (buitemuur van die opgaardam) adverteer het verbaas toegekyk hoe hul advertensies toegeverf word met wit verf en dit nadat hul vir die advertensies betaal het.
“Ons advertensie was nog een dag daar en die volgende dag is die muur spierwit oorgeverf,” het een van die besighede se eienaars gesê.
“Ons maatskappy het van die advertensiespasie op die muur gehuur en betaal en ook ’n bedrag geld aan die mense betaal wat die advertensies vir ons opgeverf het,” het me. Zeldine Jordaan van Lemar Mining Supplies gesê.
Jordaan het genoem twee maande nadat hulle advertensie op die muur begin pryk het, was hulle verbaas toe die muur heeltemal wit oorgeverf was.
Sy het gesê sy het dadelik die man by wie hulle advertensiespasie gehuur het, mnr. Albert Holtzhausen gekontak en sy eerste reaksie was dat die muur lek en dat die munisipaliteit besig is om die muur reg te maak.
“Albert het eers gesê die munisipaliteit sal al die kostes vir die oorverf van die advertensie dra. Hy het van deuntjie verander en gesê die munisipaliteit sal al die besighede terugbetaal vir die huur van die advertensiespasie omdat hulle nie meer advertensies op die muur gaan toelaat nie,” het Jordaan gesê.
Sy het gesê hulle sukkel al twee maande om hul gelde uit Holtzhausen te kry. Holtzhausen was Dinsdag 22 Julie by WITBANK NUUS en het beloof om elke besigheid te skakel en die sakie met elkeen op te los.
Hy het erken dat die gelde vir die advertensiespasie direk aan hom betaal was, maar hy het gesê hy het die geld aan ’n vrou betaal wat by die munisipaliteit werksaam was en ook verantwoordelik was vir die advertensies op die muur. Hy kon egter nie die vrou se naam of van onthou nie.
Holtzhausen het teen Dinsdag 29 Julie egter nog nie met Lemar Mining Supplies kontak gemaak nie, en ook nie met van die ander besighede wat op die muur geadverteer het nie.
Mnr. Theo van Vuuren, munisipale administrateur het gesê verlede jaar het lede van die gemeenskap die muur aan hom uitgewys.
“Die muur is deur ’n persoon wat vroeër by die munisipaliteit gewerk het onwettig en vir eie gewin aan besighede uitverhuur vir advertensiedoeleindes,” het Van Vuuren gesê.
Hy het opdrag gegee dat die verantwoordelike direktoraat in die munisipaliteit die aangeleentheid ondersoek.
“Die ondersoek het uitgewys dit is inderdaad die geval en die stadsraad het daarom die muur geverf om die onwettige advertensies te verwyder. Ons is ook besig met ’n ondersoek wat mag ly tot kriminele klagtes teen die persoon/e wat die muur wederregtelik uitverhuur het,” het Van Vuuren gesê.
WITBANK NUUS het vroeër die week verskeie kere gepoog om Holtzhausen te kontak, maar hy het nie sy selfoon geantwoord nie.
Hoe maak die situasie jou voel? Lewer kommentaar!
