Nog ’n familie moes afskeid neem van hul geliefde diere, na hondevergiftiger(s) twee honde uit die weg gemaak het om ’n motorfiets te steel.
Die Lombard-gesin het Maandag 19 Augustus, hul twee honde dood in hul erf in Uitbreiding 41 aangetref. “Ek het die oggend uitgekom en gesien dat die garage oop staan en die motorfiets weg is,” het mnr. Isak Lombard gesê.
Die tragiese beeld van die gesin se vyfjarige Bokser, Leeu, wat leweloos agter in die erf lê het Lombard se oog gevang. Nie ver van Leeu af nie, het hul Jack Russel/Worshond-kruising, Milo, ook gelê langs ’n plastieksak met die vergiftigde vleis.
Mnr. Fanie Kloppers, Lombard se skoonpa, het hartseer vertel hoe Leeu en Milo altyd opgewonde na hom toe sou hardloop in die oggend as hy by die huis uit kom, maar nou nooit weer sal doen nie.
Die gesin meen dat die honde onnodig doodgemaak is, omdat hul agter in die erf toegemaak was en nie die diewe nie sou hinder wat voor in die erf die motorhuis oopgemaak het nie.
Mnr. Nicolaas Mienie, eienaar van die motorfiets wat in die motorhuis gestaan het, huur blyplek by die Lombards en was geskok om te hoor dat sy motorfiets vermis is. “Ek het die motorfiets maar net vir twee maande gehad – nog nie eers eintlik baie met hom gery nie,” het hy vertel.
Mienie het ’n saak van diefstal aangemeld by Witbank Polisiestasie.
Polisie het weereens gemaan dat alle hondevergiftigings ook aangemeld moet word. Deur om dié sake aan te meld kan die polisie bepaal waar die vergiftigings meeste plaasvind en sodoende meer aandag gee aan dié areas.



