
Die sogenaamde maatskappy, waarvan die hoofkantoor glo in Pretoria is, besoek mense by hul huise om die produk te verkoop.
Hulle adverteer op die net en gee aan mense valse hoop van ‘n klomp geld in ‘n paar maande. Die vangs is dat voor jy kan begin om geld te maak, moet ‘n sekere bedrag in hul rekening gedeponeer word voordat jy in staat gestel word om dividende te plaas op die aandelemark.
Die totale waarde van die program, insluitend sagteware en opleiding deur ‘n verteenwoordiger van die maatskappy beloop R21 000. “Ek het ‘n sms van die bank gekry, terwyl hulle nog in my sitkamer was, waar R9 000 van my rekening afgegaan het. Ek was verbaas, maar nog steeds het niks verkeerd gelyk op daardie oomblik nie. Ek het onraad vermoed toe ‘n debietorder van ‘n verdere R9 000 geneem is uit my kredietrekening, al was daar nie soveel geld in die rekening nie,” het een van die slagoffers, wat die program gekoop het, gesê.
Volgens die man het hy wel die program ontvang, maar dat hy niks daarmee kan doen nie. Hy kry nie enige van die ‘verteenwoordigers’ of die sogenaamde hoofkantoor in die hande om uit te vind wat aan die gang is nie en intussen word hy gedagvaar vir uitstaande kostes op die program.
Daar bestaan wel wettige maatskappye wat dié tipe programme verkoop. Mense word egter gewaarsku om eers honderd persent seker te maak van die egtheid van maatskappye wat programme verkoop waarmee jy op die aandelebeurs kan handel, voordat jy daarin belê.
