’n Dik laag as bedek die kantoor waar die vlamme ure vroeër gewoed het en alles in die pad vernietig het.
Mnr. Stephan Mynhardt van MRS Scrap Holdings het Vrydagoggend 3 Oktober vertel hoe hul die vorige aand moes haas om die vlamme te blus na ’n brand wat deur onbekende persone gestig is.
“Iemand het ’n klip deur die venster van die kantoor gegooi en toe die plek aan die brand gesteek,” het Mynhardt gesê en gewys na die klip in die as en tussen die rommel van die verwoeste kantoor.
“Dit was definitief nie ’n poging tot inbraak nie,” het Mynhardt verder vertel en ’n hand gewaai na die rekenaar in die kantoor wat in die brand ook vernietig is.
Mynhardt meen dat die brandstigter bloot net skade wou maak om die besigheheid te na te kom.
“Gelukkig het die alarm af gegaan na hul die klip deur die venster gegooi het,” het Mynhardt gesê en is hy byna onmiddellik deur sekuriteit in kennis gestel. Hy het toe dadelik na die kantoor gehaas om die brand te keer.
Polisie en ’n forensiese span het die toneel ondersoek. Geen verdagtes is sover gearresteer nie.

