Editor's choiceLocal newsNews

Soveel geskiedenis, soveel liefde

Pasgetroud, of so sal hul sê. Tannie Mabel en Oom Willie Lazenby vier dié jaar hul agste huweliksherdenking en meen hul voel nog soos jong getroudes.

Die paartjie gesels lekker saam in die leefarea van hul huisie in Edenpark. Hulle pas goed saam. Oom Willie is lief om kleurvolle staaltjies te vertel oor sy verlede en geskiedenis, hy reken die Lazenby naam is afkomstig van die Worcestersous-mense… “Toe die twee broers hier in Suid-Afrika beland het…”

Terwyl Tannie Mabel slegs kortliks haar lewensverhaal deel.
Oom Willie is gebore en getoë in Natal soos die swart keps van die Haaie rugbyspan, wat hy graag dra, dit ook duidelik maak.

Vieruur die oggend in 1934 was hy gebore in die Sanatorium, “in Pietermaritzburg, soos dit nog genoem was, in Natal.”
Sy pa het by die spoorweë gewerk en hul gesin het baie rondgetrek. Oom Willie vertel dan van die plekke waar hy gebly en skool gegaan het. Port Shepstone, Franklin, Bergville, Christiana op Soutpan “daar ver in die ou Kalahari…” en Swinburne naby Harrismith, elk hou vir hom ’n mooi herinnering.

In 1950 het hy homself in Ficksburg gevind waar hy ’n skrynwerk en timmerkursus voltooi het. Houtwerk was nog altyd iets waarin Oom Willie belanggestel het. Hy het ook toe by die spoorweë begin werk en vertel so vir interessantheid van die jare 1954 en ’55 (sy jaar ook as voorsitter van die jeugbond tak) voor Natal die ‘Republiek van Natal’ was.
Oom Willie is die pa van twee kinders (een van wie oorlede is) en spog met drie kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Tannie Mabel was in 1936 op Woester in die Kaap gebore waar sy gebly het tot sy later as verpleegster gewerk het. Sy is die ma van twee kinders en vier kleinkinders.

Die storie van hoe Tannie Mabel en Oom Willie mekaar gevind het agt jaar gelede is soos die uit ’n roman. Na Oom Willie sy eerste vrou in die dood moes afstaan is hy met Tannie Mabel se vriendin getroud.
“Ons was vir baie jare huisvriende in Kriel,” vertel Tannie Mabel, wie lank nog getroud was met haar eerste man.
Na Oom Willie se tweede vrou ook oorlede is, is hy terug na Natal.
Tannie Mabel het steeds in Kriel gebly saam met haar man, maar moes in 2000 afskeid neem van haar wederhelfte na hy ook toe oorlede is.

“Vir ses jaar was ek alleen,” vertel Tannie Mabel. Dit was ’n sonnige dag in 2006 toe Oom Willie weer homself in Kriel vind. “Ek het besluit om maar net in te loer en sien of Mabel nog daar bly.” onthou Oom Willie. “Sy het in die tuin gewerk en ek het so aan haar skouer kom tik…” herroep hy en dan vul Tannie Mabel die res in; hoe sy toe omgedraai het, hom gesien het, die bekende gesig wat sy op daardie oomblik so nodig gehad het om te sien. Dit was soos liefde met tweede oogopslag en vir die eerste keer het sy hom werklik… raakgesien… “Ek het my arms om sy nek gegooi en hom gesoen.”

Dit was die einde van hul eensame jare. Op 6 Oktober 2006 is die paartjie toe getroud. ’n Paar maande gelede het hulle na Edenpark verhuis.

Oom Willie kyk nog steeds met dieselfde liefde in sy oë na sy Mabel soos die dag toe hy haar gevra het om te trou.
Tannie Mabel spog dan nou weer met haar kunstige eggenoot, wie se hout- en ysterwerk op hul vertoonkas in die leefarea uitgestal word. Dáár sit drie houtpoppe langs ’n ossewa, kompleet met al die fynste besonderhede soos ’n bedjie en meubels binne-in. ’n 1927 Plymouth, wat Oom Willie uit tamatie kassies geskep het staan op die boonste rak en dan is daar ook ’n handgemaakte Harley Davidson motorfiets met ’n klein passasiers karretjie langsaan. “Sien ek het vir haar ook plek gemaak om saam te ry,” verduidelik Oom Willie met die model motorfietsie in sy hande.
Orals waar Oom Willie nou gaan, kom sy Mabel saam.

Die paartjie sien uit na nog jare om saam hul geskiedenis te deel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button