Donnalee droom groot
Nou die dag nog was Donnalee Roberts nog 'n kaalvoet dogtertjie wat in Modelpark se strate gespeel en fietsgery het.
Die donkerkop met die groot oë het groot drome gehad en wou reeds van kleintyd af ‘n storieverteller en akteur te word. Vandag kan sy nie eers in ‘n winkelsentrum ingaan sonder dat iemand haar herken nie.
“Vandat ek geweet het wat dit is om iets met ‘n mens se lewe te wil en moet
doen, droom ek al daarvan om eendag stories te kon vertel. Ek is mal
oor film as ‘n genre en daarom is dit vir my nou so ‘n voorreg om te kan skryf, vervaardig en speel in die stories wat ek graag wil vertel en die karakters wat ek graag wil vertolk,” het sy vertel.
Haar aansteeklike lewensblyheid het oorgeborrel toe sy van die nuutste mylpaal in haar lewe vertel.
Donnalee speel een van die hoofrolle in die romantiese speurverhaal, ‘Ballade vir ‘n enkeling’.
Vanaf 20 Maart kan fliekgangers weer die nostalgie agter Ballade vir ‘n Enkeling beleef soos in die tagtiger jare.
Hierdie treffer-TV-reeks, wat in 1987 kykrekords gebreek het, se storie word nou weer vertel, dié keer op die groot skerm met ‘n nuwe en vars benadering tot die legendariese storie.
Die storie handel oor ‘n joernalis, wat die waarheid agter die verdwyning van ‘n gewilde skrywer, Jacques Rynhard, onthul. Die opdrag om ‘n storie te skryf oor die verdwyning van hierdie skrywer het eers na ‘n alledaagse, amper vervelige, taak gelyk. Maar toe begin die soektog verskeie afdraaipaaie neem en die storie ontvou in een van die grootste van haar loopbaan.
Armand Aucamp speel die rol van Jacques Rynhard.
Maar Donnalee speel nie net die rol van Carina Human, die verslaggewer by die skindertydskrif Montage nie, sy is ook betrokke by die skryf, vervaardiging en bemarking van die film.
“As vervaardiger, skrywer en akteur is dit vir my ‘n onbeskryflike groot voorreg om elke dag te kan doen wat my grootste passie in die lewe is,” het sy gesê.
Oor haar mede akteurs in ‘Ballade vir ‘n enkeling’ het sy die volgende gesê, “Armand Aucamp, Rolanda Marais, en Jacques Bessenger is al drie bitter hardwerkend en onbeskryflik professioneel. Tydens die verfilming het ons ‘n lieflike vriendskap gevorm en nie net het ek die wêreld se respek vir hulle werksetiek en die feit dat hulle ongelooflike talentvolle akteurs is nie, maar ook vir hulle menswees.”
Donnalee is bekend vir haar rol as Amory in die 2014 lokettreffer-rolprent ‘Pad na jou Hart’, wat by die Tempo-toekennings beste film van die jaar 2014 gewen het en waarvoor sy ook die toekenning vir beste aktrise van die jaar gewen het.
Sy het ook die rol van Annelie van Heerden in die SABC2 sepie 7de Laan gespeel en het in 2013 die hoofrol van Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk. Donnalee het by die Universiteit van Pretoria haar BA Drama-graad ontvang, sy het ‘n verdere twee-jaar filmskoolkursus by die Performing Arts and Lifestyle Institute filmskool in Pretoria voltooi en in 2012 het sy by die New York Film Academy studeer waar sy ‘n diploma in toneelspel vir film ontvang het.
Na al die mylpale bly Donnalee nog nederig. “Bekendheid was nog nooit vir my ‘n fokus nie. My fokus is nog altyd eerder om hard te werk en gerespekteer te word daarvoor. Vandat ek kon droom, droom ek al daarvan om te doen wat ek nou doen.”
Daar is duisende dogtertjies was ook kaalvoet drome droom. Geloof is een van die pilare waarop die jong vrou van eMalahleni haar drome gebou het.
“Moet nooit ophou droom nie en moet nooit ophou om kliphard vir daardie drome te werk nie. Wees gefokus, passievol, hou jou voete plat op die aarde en jou oë op die Here, want Hy het daardie droom in jou hart geplant vir ‘n rede,” het sy gesê.
