Witbank gemeenskap skenk in oorvloed vir baba Adriaan
“Toe my sussie my wakker maak Saterdagoggend en sê sy dink sy is in kraam het ek net gebid, want ons het niks vir hierdie kind nie,” het Gayle Snyman gesê.
In ‘n noodkreet van desperaatheid, het Daleen Saaiman, ‘n vriendin van Gayle ‘n boodskap op Facebook gestuur aan Witbank se gemeenskap, op die Witbank Wall of Shame and Fame blad. Sy het daarin versoek dat iemand sal help met ‘n doek of ‘n stukkie klere, aangesien Annemarie Gerber op 35 weke in kraam gegaan het en hulle niks vir die baba het nie. Haar man het in Desember laasjaar sy werk verloor en hulle bly by haar sussie, Gayle.
Hy is so drie weke terug aangestel by sy nuwe werk. Sy was by ‘n dokter gewees, maar hulle het met ‘n skok uitgevind dat sy al 32 weke swanger is. Saterdagoggend vroeg het Annemarie vir Gayle wakker gemaak en gesê sy dink sy is in kraam. By Witbank Hospitaal het hulle vasgestel dat sy wel in kraam is en baba Adriaan is dieselfde dag nog gebore. Hy is op die oomblik in die Intensiewe-eenheid, omdat hy so vroeg gebore is en hy het bietjie vrugwater ook gesluk. Sy longe word tans gemonitor. Maar hulle hoop dat as hy goed vorder, hy binnekort na die babakamer verskuif sal word.

Na die boodskap op Facebook gesit is, het die skenkings ingestroom. Nie net baba produkte is geskenk nie, maar klere ook. Van ‘n baba met 14 doeke, het hierdie kind nou melk, doeke, klere, ‘n dra-stoeltjie, ‘n kot en alles wat ‘n baba nodig het.
Die familie is verskriklik dankbaar vir elke skenking. Daar was soveel goed wat die gemeenskap gebring het, daar was naderhand nie meer plek in die sitkamer nie. Daar is wel babagoed wat hulle dubbel van gekry het, maar dit gaan Gayle skenk aan Ina de Beer, aan die klere vir behoeftiges.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir eMalahleni nie. Julle het ‘n gesin in nood soveel gehelp. Geen woorde kan ons dankbaarheid beklemtoon nie. Maar namens my sussie en haar gesin, wil ons net uit ons harte uit sê: Dankie.”

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.
