Begrafnis laat familie twyfel
’n Familie oorweeg dit om hul pa se lyk te laat opgrawe om seker te maak dis wel hy wat begrawe is

’n Familie oorweeg dit om hul pa se lyk te laat opgrawe om seker te maak dis wel hy wat begrawe is, en nie iemand anders in sy plek nie.
Dit volg na ’n nare ondervinding tydens mnr. Piet Killian se begrafnis op 30 Oktober.
Mnr. Johann Killian, sy seun, het gesê die trauma wat die familie moes deurmaak met die begrafnis is net meer aangehits deur die onprofessionele diens deur Dove Begrafnisdienste.
“My pa se lyk was laat vir die diens. Ek moes twee keer bel om te hoor waar hulle is,” het hy gesê.
Om dinge nog te vererger was die verkeerde kis gebruik, mnr. Killian se naam was nie op die begrafnisbrief nie, daar was geen kiskrans nie en ook geen blomblare om na die diens op die kis te strooi nie.
“Dove het gesê hulle is besig om die klagtes te ondersoek, maar kom nie tot ’n punt nie,” het Killian gesê.
Killian het gesê hierdie was ’n vernedering, nie met vir sy pa nie, maar ook vir die familie en vriende wat die begrafnis bygewoon het.

Nie eers die begrafnisbrief was reg vir mnr. Piet Killian se begrafnis nie.
Mnr. John Nel, Dove se area bestuurder operasioneel het gesê hy is nie by magte om met die media te praat nie. Hy het die koerant na mnr. Klaas Mabetlela, die operasionele bestuurder verwys.
Nel het wel ’n brief aan die Killian’s gestuur waarin hy noem dat die saak volgens Dove se dissiplinêre beleid aangespreek sal word.
Die operasionele bestuurder, mnr. Klaas Mabetlela het nie op oproepe van WITBANK NUUS gereageer nie.

