Likkewaan laat inwoners van Country Village Estate skarrel
Inwoners van ’n plaaslike kompleks het groot geskrik vir ’n groot reptiel wat in ’n afvoerpyp gaan wegkruip het ná ’n vroeë oggendkuier.
n Reuse-likkewaan met ’n lang, swaaiende stert het inwoners van Country Village Estate behoorlik op hol gehad.
Die likkewaan het vroeg vanoggend kom inloer en die inwoners van die kompleks verras. Die ontvangs wat hy gekry het, was egter nie al te gul nie.
Die likkewaan het nie gebly vir koffie of tee nie; hy het in ’n pyp ingevlug wat onder een van die huise deur loop, en kruip nou daar weg.
Piet Wassenaar, wat nou saam met die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap werk, het gesê likkewane kom kuier gereeld in dié omgewing.
“Daar is ’n spruit in die omgewing en hulle baljaar gewoonlik lekker daar,” het Wassenaar gesê.
Hy het inwoners gewaarsku dat likkewane skerp naels het, kan byt en mense met hul sterte kan seermaak.
Lees meer Seekoeiwater se valk met ’n pellet geskiet
Witbank News sal lesers op die hoogte hou sodra die likkewaan gevang en veilig by die spruit terugbesorg is.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
