Local newsNews

‘Stop asseblief by stopstraat’

’n Leerling van Laerskool Reynorif is onlangs byna deur ’n motor gestamp wat die stopteken in Gezellestraat geïgnoreer het.

’n Leerling van Laerskool Reynorif is onlangs byna deur ’n motor gestamp wat die stopteken in Gezellestraat geïgnoreer het.

“Ek begin vrees vir die leerlinge wat soggens oor daardie pad moet loop, skoolpatrollie en al,” het ’n besorgde inwoner, me. Benita Lottering gesê oor motoriste wat die teken ignoreer.

Lottering het vertel dat sy ook al deur ’n ongeskikte motoris op die arm gestamp is met die verbygaan.

“Vandag gee niemand eers meer om oor die skolierpatrollie nie, daar is taxi’s wat die kinders van die pad af stoot om deur te kom,” het Lottering bygevoeg.

CV218rs
Die stopteken in Gezellestraat oorkant Laerskool Reynorif wat deur motoriste geïgnoreer word, word as ’n groot gevaar gesien vir leerders en voetgangers.

“Ek gebruik hierdie pad daagliks en is al soveel keer amper in ’n ongeluk gewees weens karre wat nie stop daar nie. Motoriste vee hulself af aan die stopteken en jaag oor en dan het hulle nog die vermetelheid om vir die voetgangers te toet by die voetoorgang,” het me. Christine Lubbe gesê.

“Mense jaag so in hierdie straat dat dit onmoontlik is om die voetoorgang te gebruik. Ek bly oorkant die stopstraat en word nie eers die kans gegun om uit my eie erf uit te ry nie. Ons waag ons lewens as ons uit ons erf moet kom,” het me. Trudie van Eeden, nog ’n inwoner, bygelas.

Die inwoners het al talle kere gekla oor die kwessie en ’n spoedhobbel is wel later aangebring.
Volgens die inwoners in daardie omgewing is dit nie ’n eerste wat ’n kind byna raakgery word nie.

“Daardie spoedhobbel help net mooi niks, jy sien hoe karre oor daardie hobbel vlieg sonder om te stop,” het me. Rentia Visser gesê nadat haar dogter in 2015 van haar bromponie afgestamp is deur ’n taxi wat die stop geïgnoreer het.

Vir jare lank weet die inwoners van Laerskool Reynorif se padpatrollie en het altyd getrou gestop en wag vir die kinders om veilig oor die straat te gaan.
Volgens ’n woordvoerder van Laerskool Reynorif het die skool self nog geen klagtes ontvang oor mense wat die stopstraat ignoreer nie. Volgens haar is daar nuwe strepe geverf voor die Desember skoolvakansie verlede jaar.

“Kinders is onkundig en sal nie twee keer dink om net oor die straat te hardloop nie, ons moet dit net in gedagte hou,” het nog ’n inwoner te sê gehad.

“Ons oplossings vir die probleem raak minder, alles wat gedoen word om dit te verhoed help nie, ons as inwoners is raadop. Ons dink dit al goed om ons eie spoedhobbels te maak,” het mnr. Petrus Botha ten slotte gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button