Hy het gewerk tot hy nie meer kon nie
Vir eMalahleni laat die dood van die bekende dr. Pieter Neuhoff (66) ’n groot leemte.

Vir eMalahleni laat die dood van die bekende dr. Pieter Neuhoff (66) ’n groot leemte.
Dr. Neuhoff is Woensdag 27 Januarie om 21:00 in sy hospitaalbed in Life Kosmos Hospitaal oorlede nadat hy ’n drie jaar lange stryd teen kanker verloor het.
Hy was ’n bekende dokter wat nog die Dinsdag voor sy afsterwe in die teater geassisteer het by Life Kosmos Hospitaal.
“Hy het nie baie lekker gevoel nie, maar hy het steeds gehelp. Die susters het vir hom ’n stoel gegee en hulle het sy arms opgelig tot hy kon nie meer nie. Hy het chemoterapie op die Woensdag gehad en is die Donderdag opgeneem en die volgende Woensdag oorlede,” het sy seun, mnr. Henri Neuhoff gesê.
Vir die afgelope drie jaar het dr. Neuhoff nooit gekla oor wat hy deurgaan nie.
“My pa was deur baie die afgelope drie jaar en hy het omtrent 16 operasies gehad, maar hy het nooit gekla nie,” het Henri gesê.

Dr. Pieter Neuhoff is Woensdag 27 Januarie in die ouderdom van 66 jaar oorlede na ’n drie jaar lange stryd teen kanker.
Vir sy vrou Annette was hy altyddeur ’n steunpilaar.
“Hy was ’n ongelooflike man vir my, hy was altyd daar vir my. Vir die afgelope drie jaar was hy so sterk en hy het nooit gekla nie,” het Annette beaam.
Dr. Neuhoff het in November 1976 saam met drs. Slabbert, Van Rensburg, Joint en Venter ’n praktyk in Witbank oopgemaak. Vir vyf jaar was hy saam met dié vennote in ’n praktyk voordat hy saam met dr. Van Rensburg in praktyk gewerk het.
Dr. Neuhoff laat sy vrou, Annette, sy kinders Henri en sy vrou Lydia, dogter Brun en haar man Willie, dogter Thea en haar man Christoff en seun Emil en sy vrou Salome agter. Die kleinkinders wat hy agterlaat is Kaylin, Mieke, Ruan, Pieter-Henri, Mignon, Hilde, Biance, Danya, Elimay, CJ, Cara, Elle en Mila.
Die begrafnis het Woensdag 3 Februarie om 11:00 vanuit die NG Klipkerk plaasgevind.
