
Riool vloei onophoudelik in die Olifantsrivier in, vermoedelik as gevolg van mangate wat oorvloei.
Na aanleiding van vele klagtes wat ontvang is van ontstoke inwoners as gevolg van die reuk van riool wat die lug vul en ook skuim wat in ’n oormaat in riviere vloei, kan direkte afleidings gemaak word dat riool wel teenwoordig is in die water.
Op 29 Januarie is water vanuit ’n spruit geskep en toetse is gedoen by Regen Waters Laboratorium. Toetse is gedoen en dit toon dat die ammoniak- asook fosfaatvlakke hoog is. “Dit is ’n bewys dat riool wel teenwoordig is in die water. Baie dinge kan hierdie resultate affekteer, soos die reën wat dit nou weer tot ’n mate suiwer,” het mnr. Ludolf Uys van Regen Waters gesê.
Hierdie spruit vloei deur ’n plot en op Woensdag, 3 Februarie kon die riool nog baie sterk geruik word tydens WITBANK NUUS se besoek.

Riool wat duidelik sigbaar is in die spruit wat deur ’n plot loop.
Die water is geskep op vyf verskillende geleenthede, waaronder 26 Oktober en 29 Januarie die mees onlangse. “Hier vloei nie so groot stroom nie, maar vir die afgelope agt weke sukkel ons verskriklik met hierdie reuk en vir my ruik dit soos suiwer riool wat hier af vloei,” het die eienaar van die plot Woensdag gesê.
Die toetse wat deur Regen Waters gedoen is, toon ’n duidelike verhoging in die fosfaat- en ammoniakvlakke, vanaf ’n 0.54mg/l in Oktober tot ’n 7.86mg/l in Januarie.
“Die reuk is verskriklik en ons het verlede naweek die hele naweek in die huis spandeer met al die vensters en deure toe. Ons kan nie net trek nie, en kuiergaste is ook baie beperk as gevolg hiervan,” het ’n inwoner van die gebied gesê.
Die fosfaat se telling is ook hoër in Januarie, in vergelyking met vroeër toetse met ’n 0.67mg/l teenoor die >0.1mg/l in Oktober.
“Drinkwater moet gesuiwer word tot op die vlak waar dit gedrink kan word vanuit die kraan en riool gaan deur ’n proses, waar dit dan daarna veilig is om terug te voer in die rivier. Maar die suiwer riool kan nie in die rivier afspoel nie,” het Uys verder gesê.
Alge wat in die rivier teenwoordig is, is ’n teken van riool in die water, maar volgens Uys is dit nie goed of sleg nie. Baie tegniese aspekte is hieraan verbonde.

Riool wat vanaf die Naauwpoort steengroef direk in Witbankdam inloop (Foto: verskaf).
Volgens ’n anonieme bron, is die steengroef wat oorspoel al ’n probleem vir ongeveer 18 maande. “Ons rapporteer die probleem gereeld, dan kom maak hulle dit reg, dit hou net so paar dae dan is dit weer terug na normaal. Ons is al keelvol vir dit, ons het al begin help aan die probleem werk en self goed verskaf om te help met die proses, maar dit oorspoel gereeld. Hierdie laaste twee weke is dit alweer nag met die verskeie pype wat oorspoel. Ons bel waterwese gereeld om die probleem op te los, maar niemand kom uit om dit reg te maak nie. Verlede jaar April of Mei was die afsluittyd vir al die pype om reg te wees, amper ’n jaar later en daar is niks verander nie,” het hy ook gesê.
Volgens die bron was daar al verskeie kere mense van die waterwese om die probleem uit te sorteer, maar tevergeefs, aangesien die oorloop van die rioolpype net nie ’n einde kry nie.
Verder het hy gesê dat een van die pype steeds nie in werkende kondisie is nie en sodoende vloei die riool steeds in die rivier in. Aangesien dit een van die hoof steengroewe in eMalahleni is, is daar baie riool wat hier deurgaan.
“Een van die pype is reggemaak, maar daar is steeds een wat van Del Judor 4 af kom wat steeds stukkend is,” het hy Dinsdag 9 Februarie gesê.
Nog suiwer riool is opgemerk wat vanaf die Naauwpoort steengroef in Witbankdam vloei. Volgens ’n ooggetuie is dit ongesuiwerde riool wat nie eers deur die proses gaan voor dit veilig is om in die rivier te vloei nie. “Ons het dit toevallig gesien toe ons daar verby gery het die naweek. Dit is bolle skuim sodra jy oor die laagwaterbruggie ry,” het sy gesê.
Alhoewel talle pogings aangewend is om mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder in die hande te kry vir terugvoer, is niks ontvang teen druktyd nie.
