Local newsNews

Sy kon net mamma vir 11 weke wees

Amanda van Heerden (32) los ’n leemte in familie en vriende se harte.

Amanda van Heerden (32) los ’n leemte in familie en vriende se harte.
Dié jong mamma en bekende haarkapster is Saterdag, 13 Februarie aan hartversaking oorlede, slegs 11 weke nadat sy geboorte aan klein Regardt gegee het.

“Sy het slegs 20% hartfunksie gehad volgens die dokter, en sy sou ook ’n kandidaat vir ’n hartoorplanting wees, sou sy gesond geword het,” het haar ma, me. Hettie van Heerden gesê.

Volgens Hettie het dr. Beyers haar dogter heeltyd bygestaan.

“Hy het my selfs gekontak oor haar toestand. Dit is ’n dokter met ’n baie groot hart en ons wil net vir hom baie dankie sê vir alles wat hy vir my dogter gedoen het. Hy het so mooi met haar gewerk,” het Hettie verder gesê.

Mc434-1rs
Wyle Amanda van Heerden.

Hettie het haar dogter beskryf as ’n persoon wat altyd gelag het en dat haar werk haar alles was. Vir haar was dit so spesiaal om ander mense mooi te maak en om ander gelukkig te sien na hulle by haar salon uitstap.

“Sy het haar uitgelewe in haar werk en sy was gebore om ’n haarkapster te wees,” het Hettie bygevoeg.

Amanda was die eienaar van Head Strong Salon.
Die salon gaan steeds voort ter wille van haar seuntjie.
Die personeellede van Head Strong het ook elk ’n boodskap gehad vir hul werkgewer.

“Amanda, Rottie, Madjies, Manda, Panda beer… En so kan ons nog vir lank aanhou. Elkeen het ’n hartsnaampie vir jou gehad, jou bynaampies net so uniek soos jou verhoudings wat jy met elke mens gehad het. God het jou die geleentheid gegee om baie mense se harte aan te raak. Meestal deur hulle hare, en jy het elke dag jou taak met altwee hande aangegryp.
“Dis onwerklik om te dink jy gaan nie weer by die salon instap in die oggende en laat wees nie. Jou skaduwee, ou Rambo wat jou altyd vooruit gehardloop het en julle altwee wat altyd vol ‘joy’ hier by die salon ingestap het. Hoe die wêreld kon vergaan het as jy vir Regardt in jou arms gehad het en hoe julle twee woordlose gesprekke gehad het deur om net in mekaar se teenwoordigheid te wees. En hoe jy hom altyd met soveel liefde en deernis gesoen en bewonder het.
“Ons gaan nooit weer vir jou perde-tee kan maak nie, nie weer aangesteek word deur jou laggie wat net jy gehad het, nie.
“Niemand van ons verstaan hoekom jou tyd by ons so kort geknip is nie, maar een ding wat God deur jou siek-wees kom doen het, is om mense oor die wêreld deur gebed in eenheid voor Hom saamgebind het. En dat elkeen van ons introspeksie sal doen om te wonder of ons ook sò ’n impak op ander mense sou hê as ons met jou plekke moes ruil. Jy was een ‘awesome’ baas, kollega, hartsvriendin, maatjie en ‘entertainer’. Jou plekkie is onvervangbaar in ons harte.”

Amanda laat haar seuntjie, ouers, suster, broer en twee susterskinders agter.
Klein Regardt word tans deur Amanda se suster, Adelé versorg.

Haar verassingsdiens vind Vrydag, 19 Februarie vanuit die NG Moedergemeente (Klipkerk) plaas om 11:00.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button