Sy is soos ’n roosknoppie wat stadig besig is om oop te vou.
Na drie maande vandat die pragtige Miané Anslie op 9 November byna verdrink het by haar ouma se huis, loop dinge vir die familie al hoe beter.
WITBANK NUUS het vroeër berig dat Miané in Februarie sal gaan om ’n PEG (Perkutane Endoskopiese Gastrostomie) buis te kry.
Dit is ’n proses waarin ‘n buigsame voedingbuis deur die buikwand en in die maag geplaas word. Dit laat voeding, vloeistowwe en medikasie direk in die maag vloei sonder om gebruik te maak van die mond en slukderm.
Die prosudure het tot dusver nog nie plaasgevind nie, maar intussen presteer sy in haar daaglikse oefeninge.
“Sy begin al so sterk word, sy fokus al en maak oogkontak vir ’n rukkie. Sy probeer haarself oplig met tye en kry dit goed reg,” het Miané se ma, Claudette Anslie met trots gesê oor haar dogtertjie se pad na herstel.
Sy is tans by Marietjie van den Berg se BabaGim en kry die nodige oefening om volkome te herstel.
“Miané toon lieflike vordering,” het Marietjie vertel.
Die Anslie familie se lewe begin stadig maar seker weer koers vat.
“Miané was nou die dag by ’n verjaarsdagpartytjie en het al die maats se stemme gevolg en die oulikste geluidjies gemaak as haar oupa met haar speel,” het Claudette bygelas.
Miané Anslie begin haar lyfie vanself opdruk. Die dogtertjie wat op 9 November by haar ouma se huis byna verdrink het word elke dag net sterker.
Miané se wil raak net sterker en sy doen goed in alles wat op haar pad kom.
Claudette het veder vertel hoe sy en Miané een aand in die bed gelê het en soos altyd het haar mamma met haar gesels voor slaaptyd.
“Ek het haar gevra sy moet haar handjie uitruik en voel waar ek is sodat ek haar handjie kan soen en siedaar vat sy haar handjie en plaas hom op my gesig. Sy het dit vier keer na mekaar gedoen,” het Claudette met blydskap vertel.
Daar is steeds uitstaande fondse met Miané se hospitaalrekening en dus word die gemeenskap weereens gevra, indien enige iemand wat ’n skenking wil of kan maak dit direk oorbetaal in Life Cosmos se rekening in.
Bankbesonderhede is as volg:
FNB
Life Cosmos Hospital
Tjekrekening: 54300040646
Takkode 270250
Verwysing: 443792 Ainslie.
Faks asb bewys van betaling aan: 086 686 8812.
Terwyl die familie se geloof hul positief hou, staan die gemeenskap hulle by, nie net met fondse en hulp nie, maar ook met verskeie motiveringsboodskappe op die sosiale mediablad Facebook.
“Met harde werk, baie geduld en opregte geloof is Miané een van hierdie mooi dae weer haar ouself want Sy genade is genoeg,” is een van die vele boodskappe aan Miané en haar familie.