CrimeLocal newsNews

15-jarige kry oordosis heroïne in: Twee wat help inspuit se borg geweier

Dwelms het weereens sy grypende kloue, die keer in ’n 15-jarige seun, ingeslaan.

Dwelms het weereens sy grypende kloue, die keer in ’n 15-jarige seun, ingeslaan.
Adriaan Keyser veg vir sy lewe in Witbank Hospitaal se intensiewe sorgeenheid nadat hy ’n oordosis heroïne ingekry het. In ’n polisiesel, 53km verder, sit twee verdagtes onderskeidelik 25 en 23 jaar oud.
Hulle is Vrydag 15 April deur Ga-Nala se 911 lede gearresteer en na die polisiestasie geneem. ’n Sakkie dwelms en ook ’n spuitnaald is een van die verdagtes se besit gekry.

ze157-2rs
Adriaan Keyser (15) het ’n oordosis heroïne ingekry.

Die verdagtes is Maandag 18 April borg geweier en die saak is uitgestel tot 25 April.
Inwoners van Ga-Nala het Maandag voor die twee verdagtes se hofverskyning ’n petisie met 600 handtekeninge aan die dorp se stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Herold Mashile, oorhandig en hulle stemme dik gemaak oor die dwelmhandel wat hoogty in die dorp vier. Tussen die inwoners het me. Trudie Snyman gestaan met trane wat ’n spoor op haar wang agterlaat. Sy het woordeloos vir haar seun gestaan en bid.

“Adriaan herken my stem, as ek by hom is weet ek hy weet dat ek daar is,” het Snyman gesê.

Sy het gesê twee mans het Adriaan Donderdag 07:30 by sy huis gaan haal om vir hom ’n afskeidspartytjie te gee omdat die familie na Muldersdrif trek.

In ’n verklaring aan die polisie het die een verdagte gesê hulle was bewus daarvan dat Adriaan net 15 jaar oud is.

“Onder ons toesig en met ons hulp is hy gespuit met ’n oordosis heroïne,” het die verdagte geskryf.

ze157-1rs
’n Uittreksel uit een van die verdagtes se verklaring.

Mnr. Hawee Lange was op pad om ’n vriend by die werk af te laai toe hy die twee mans net so voor 11:00 sien die seun sleep-dra.

“Na ek my vriend afgelaai het, het ek teruggery en gesien hoe die twee mans die seun in die veld neergooi. Ek het gestop en hulle gevra wat aangaan en hulle het vir my gesê die seun het te veel gedrink hulle wil hom huis toe vat. Ek het hulle opgetel en tot by die huis gery waar die seun bly,” het Lange gesê.

Hy het genoem die twee mans wou pad vat, maar hy het hulle daar gehou tot mnr. Hannes Nel, wat ook in die woonstel bly, die deur oopgemaak het.

“Die twee mans het weer vir ons gesê die seun het té veel gedrink, hy moet sy roes gaan afslaap.”

ze157-3rs
Adriaan Keyser (15).

Nel het toe vir Snyman gebel en gesê van die voorval en sy het op haar beurt Ga-Nala 911 op die Zello-groep geroep om te gaan kyk wat aangaan.

“Ek het regtig groot geskrik toe ek daar aankom. Adriaan was leweloos. Ek het besef hier is iets anders aan die gang,” het Edwin Nel van Ga-Nala 911 gesê.

Hulle het die ambulans laat kom, maar besef dat Adriaan vinnig mediese hulp moet kry en met hom in hul bakkie na ’n plaaslike dokter gejaag.
Die dokter, wat verkies om anoniem te bly, het gesê Adriaan was in ’n koma. Hy het toe sy bloedsuiker getoets en dit was normaal. Hy het toe die seun se urine getoets wat aangedui het dat daar heroïne in sy liggaam is.

“Ek het hom dadelik ’n teenmiddel gespuit om sy longe te beskerm. Hy het gemakliker asemgehaal en sy kleur was ook baie beter,” het die dokter gesê.

Adriaan is daarna per ambulans hospitaal toe geneem.

“Ek het die oggend nog met hom gesels voor ek werk toe is. Ons is besig om te pak. Adriaan het gesê hy gaan solank voort om te pak. Ek wou nie dat hy alles pak nie, omdat ek baie van die goedjies nie gaan saamneem nie, maar hy was so opgewonde om alles vir my in te pak,” het Snyman gesê.

Sy het probeer om haar emosies te onderdruk, maar haar vasgeklemde vuiste en die moeë lyne om haar oë het verklap dat sy min slaap kry.

“Ek is elke dag by Adriaan, dis nie sy skuld nie ….. help my bid asseblief vir my seun”.

READ ALSO:
Drug arrests over festive season
10 year old asks for help at Sanca

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button