
Twee mans is verlede week deur rowers by hul woonplekke oorval.
Mnr. Paul Marais is getakel in ’n huis waar hy tydelik bly, aangesien sy woonstel steeds gebou word.
Op Dinsdag, 12 April, omstreeks 04:50 het twee mans toegeslaan en die skok het hom eers later getref.
“Hulle het my slaapkamer se lig aangesit en ek het in een man vasgekyk. Die volgende oomblik was daar nog ’n ander man agter my ook, hulle het die komberse van my afgeruk en my met ’n rewolwer op my kop geslaan,” het Marais die gebeure herroep.
Hy het vertel dat hy oorspronklik van Pretoria af is en is besig om ’n woonstel te bou agter in ’n erf.
“Ek weet nie hoekom hulle my getakel het nie en ek weet nie wat hulle wou gehad het nie. Hulle het my horlosie, my selfoon, radio, alles gevat. Ek het op daardie oomblik maar net besef dat ek moet stil lê en maak of ek uitgeslaan is, aangesien ek nie alleen teen hulle kan baklei nie, en ook niks doen teen hulle en die wapen nie,” was Marais se verdere woorde.
In nog ’n voorval is ’n man die afgelope naweek deur rowers by sy motorhuis ingewag.
Op Saterdag, 16 April het hy na bewering die motorhuis oopgemaak, aangesien hy sy voertuig wou bêre.
Hy beweer dat hy die voertuig skaars klaar in die motorhuis parkeer het, toe twee mans met rewolwers hom oorrompel en hom na sy slaapkamer geneem het. Daar is hy beveel om plat te lê, terwyl die geweer op hom gerig was. Onder andere is sy selfoon en ander huishoudelike items ook gesteel.
LEES OOK:
Inbraak na toemaaktyd
Soveelste inbraak by besigheid
