
Slagoffers is verlede week in hul huise aangeval en die uiteinde was beserings.
Op Sondag, 1 Mei, is ’n vrou in haar woning in Uitbreiding 8 beroof. Sy beweer dat sy op die bed gelê en flieks kyk het, toe sy ’n geluid buite hoor. Volgens haar was niemand anders by die huis nie, aangesien almal weg was vir die langnaweek. Die vrou het gesê dat daar drie mans in haar kamer was en sy het ’n voorwerp gesien, maar kon nie uitmaak wat dit was nie. Sy sê ook dat sy gedreig was met dit en het gedoen soos hulle beveel het.
’n Skootrekenaar, twee selfone en ander items is gesteel.
Gedurende ’n huisroof in Blancheville het die verdagtes mnr. Cornelius Liebenberg se hande en voete saam agter sy rug vasgemaak. Op Saterdag, 30 April, het twee onbekende mans toegeslaan op die huis waarin hy gewoon het.
Omstreeks 01:00 Saterdagoggend het hy ’n klop aan die deur gehoor en die deur oopgemaak om te kyk wie buite is, aangesien hy in iemand se erf woonagtig is.
“Nadat die rowers hom vasgemaak het, het hulle gevra wie nog in die huis is. Hy het vinnig gepraat en gesê dat sy broer in die kamer is. Hulle wou weet wat sy broer se naam is en vir hom gesê hulle gaan hom skiet as hy nie stil lê nie. Die rowers het al sy huurkoop items gesteel, soos sy televisie en sy selfoon,” het me. Nettie Nel gesê.
Sy het ook bygevoeg dat die rowers hom met ’n rewolwer teen sy kop geslaan het en sy keel geskraap het met ’n mes, maar gelukkig was die skraap nie diep nie.
“Hy het sommer getrek, want hy is nou te bang om verder hier te bly. Ek is net bly hy het nie seergekry nie. Ek het hom ingevat, aangesien hy nie ander blyplek gehad het nie,” het Nel ten slotte gesê.
Op Donderdag, 28 April, ongeveer 02:00 het ’n onbekende man toegeslaan op ’n woning in Ben Fleur.
“Ons is drie susters met drie kinders wat in die huis bly. My een suster het geskree en toe ek gaan kyk het wat fout is, het ek my vasgeloop in die een rower met ’n geweer in sy hand. Gelukkig het niemand seergekry nie, maar ons almal is baie getraumatiseer,” het me. Lubisi Delisile, Dinsdag gesê.
Sy het ook bygevoeg dat hulle geslaan is, maar niemand is vasgemaak nie, en slegs drie selfone en ’n televisie is gesteel.
“Ons het net seker gemaak dat die kinders niks oorgekom het nie. Ons het geen permanente skade nie, net die letsels van die aand se gebeure. Dit is iets wat by mens bly, want jy vrees vir jou lewe in jou eie huis,” het Delisile ten slotte gesê.
LEES OOK:
Burgled of possessions
Ses jaar agter tralies vir gewapende roof
