CrimeNews

‘Huff-puff’ en baksteenmure is af

Die realiteit is dat inbrekers nou nie meer skroom om baksteenmure steen vir steen af te breek om toegang tot erwe te kry nie.

Dit klink soos ’n strofe uit ’n kinderstorie – huff-puff en daar is die baksteenmuur om.
Die realiteit is dat inbrekers nou nie meer skroom om baksteenmure steen vir steen af te breek om toegang tot erwe te kry nie.
Op Woensdag 4 Mei douvoordag om 02:00 het mnr. Dudley Human wakker geword deur sy verloofde wat aan hom tik.

“Sy het niks gesê nie en die hele tyd vir my gewys ek moet luister en in die gang afkyk. Ek het toe stukkies hout gehoor breek en dadelik in die gang afgehardloop,” het Human gesê.

Die diewe het glo Human se voetspore op die houtvloer gehoor en op vlug geslaan.
Hy het toe die paniekknoppie van sy alarmstelsel gedruk om die booswigte te waarsku dat daar wel sekuriteit is.

“Toe ek hoor hulle is weg het ek verdere ondersoek gaan instel net om te sien hulle het my baksteenmuur afgebreek onder die elektriesedraad, net ver genoeg om toegang te verkry,” het hy verder vertel.

CV332ars
Die baksteenmuur wat die afgelope week deur diewe afgebreek is om toegang tot mnr. Dudley Human se erf te kry.

Daar was glo van 2 Mei tot 8 Mei ses pogings van inbrake in die Reynorif en Ben Fleur area waarvan twee by Human plaasgevind het en drie by ander huise waar honde vergiftig is.
Die tweede voorval het op Sondag 8 Mei om en by dieselfde tyd gebeur.

“Een van my vriende het iewers gaan kuier en dit toe goed gedink om by my huis verby te ry en te kyk of alles nog in orde was. Hy het verby gery en gesien dat die muur steeds afgebreek was en my gekontak,” het Human vertel.

CV332brs
Daar word vermoed dat die diewe bakstene een vir een losmaak tot daar genoeg plek is om toegang te verkry tussen die elektriese drade en muur.

Sy vriend het hom gebel om te hoor hoekom hy steeds nie die muur reggemaak het nie en dis toe dat Human met ’n haas opspring en hoor hoe die diewe om sy huis hardloop en die muur spring.

“Ek is seker die diewe het op vlug geslaan toe hulle my selfoon hoor lui het,” het Human ook gesê.

Die diewe het weereens toegang verkry deur die baksteenmuur net langs die vorige poging af te breek.

“Met die eerste voorval het my verloofde wakker geword van ’n geluid maar die tweede voorval het nie ek of my verloofde enige iets gehoor nie. As dit nie was vir my vriend nie, sou hul seker hulle manier gekry het tot in my huis,” het hy ook gesê.

Na Human dit op sy sosiale-blad geplaas het om ander inwoners paraat te maak het nog mense na vore gekom met wie dieselfde gebeur het.

“Hulle het op twee plekke van die bakstene begin losmaak en uithaal en by elk van die plekke was waar hul maklik toegang sou kon kry,” het nog ’n inwoner vertel.

CV332crs
Die diewe plaas weer die bakstene op hul plek na hul dit losgemaak het.

Mnr. Jammie Bezuidenhout wat ook in daardie omgewing woon het hartseer vertel hoe die booswigte eers sy hond vergiftig het en toe gaan inbreek het by die Human’s.

“Hulle maak meer skade as wat hulle dink, my hond was soos ’n kind in die huis,” het Bezuidenhout gesê.

Dis nêrens meer veilig nie. Hulle is mak en gee nie om waar hulle skade berokken nie.

“My elektriesedrade het nie eens my alarm laat afgaan nie, want twee drade moet eers teen mekaar raak om die alarm te aktiveer,” het Human bygelas.

Die boodskap van die gemeenskap, asook die GPF (Gemeenskapspolisiëringsforum) is dat inwoners op hul hoede moet wees en die geringste dingetjie aanmeld.

“Hulle breek die baksteenmure van bo af, hulle ruk dit ry vir ry los tot hulle vir seker kan sien dis genoeg vir hulle om deur te kan kom,” het Human ten slotte gesê.

LEES OOK:
Inbraak na toemaaktyd
Inbraak kos duisende

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button