
’n Leë inkopietrollie het vertel van Susan Theunissen se inkopiedag wat in ’n nagmerrie ontaard het.
Op Saterdag, 2 Julie het sy ’n bekende inkopiesentrum in Klipfontein besoek om kruideniersware te koop, toe sy beroof is van haar selfoon, bankkaart en ook haar voertuig se sleutels.
“Twee dames het na my gekom en vir my gesê dat daar winskope vir gestremde- en bejaarde mense is. Ek moes saam hulle buite toe gaan, om glo iemand daar te ontmoet wat my meer kon vertel. Dit was vir my baie verdag, maar ek het gegaan om te hoor wat hulle te sê het. Ek het my trollie in die winkel gelos, met die kruideniersware wat ek wou koop. Ek het immers nog nie daarvoor betaal nie,” het Susan haar storie vertel.
Sy het ook bygevoeg dat nadat sy teruggegaan het in die winkel, het sy besef dat haar persoonlike besittings uit haar sak gesteel is.
“Ek is terug na my trollie en het dadelik begin soek, maar met geen sukses. Ek het inderhaas die bestuur van die winkel ingelig, maar niemand kon my help met enige beeldmateriaal nie,” het sy ook vertel.
Volgens ’n opsporingstoestel op haar man se selfoon, was Susan se selfoon glo by ’n vulstasie langs die inkopiesentrum. Die polisie is na die vulstasie ontbied, maar hulle het haar ingelig dat die honde-eenheid nodig is om die gebied te deursoek. Die beampte aan diens het ook gesê dat die honde van Middelburg moet kom, so dit sal ’n rukkie neem.
“Ek het sedert Saterdag niks gehoor van die polisie nie, nadat hulle gesê het dat hulle die gebied sal deursoek. Ek en my sussie het selfs gister weer deur die inkopiesentrum geloop om te kyk of ons nie enigiets sien nie, maar het tot nou, geen leidrade nie. Die werkers van hierdie winkel wat dalk iets kan weet, het volstrek geweier om met ons in Engels of Afrikaans te praat, slegs in hulle taal. Selfs toe ons gister teruggegaan het, het die bestuurder ook met die werkers gepraat, maar hulle het steeds net in hul taal gepraat,” het Susan gesê.
Sy het ook bygevoeg dat die sekuriteitswag Saterdag daar aangekom het met sewe bankkaarte wat hy in ’n nabygeleë asblik gekry het.
“My kaart was ongelukkig nie tussenin nie, maar ek vermoed dat ek nie die enigste persoon is wat al so gekul is nie. My kaart is omtrent in ’n uur se tyd by verskeie nabygeleë winkels gebruik en my hele rekening is leeggetap. Ek vermoed dat my bank se limiet verhoog is op my selfoon se internet bankdienste,” het sy ook gesê.
Nog geen verdere leidrade is ontvang aangaande hierdie saak nie, en word steeds ondersoek.
“Ek is so magteloos. Niemand kan my help met enige inligting nie. Ek weet nie meer watter kant toe nie,” het Susan moedeloos gesê.
READ ALSO:
Victim robbed of his car and other items
Two neighbouring businesses robbed on the same night
